Acts 8
1 Saulus het die moord op Stefanus goedgekeur. Op daardie dag het daar 'n hewige vervolging teen die •gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal behalwe die •apostels is deur die streke van Judea en Samaria verstrooi.
2 Vroom manne het Stefanus begrawe en uitermate oor hom gerou.
3 Maar Saulus het die gemeente probeer uitroei deur huis ná huis binne te dring, mans sowel as vroue na buite te sleep, en hulle in die tronk te laat gooi.
4 Dié wat verstrooi is, het rondgetrek en die evangeliewoord verkondig.
5 En Filippus het na 'n stad in Samaria gegaan en die Christus aan hulle verkondig.
6 Toe die skare Filippus se woorde hoor en die tekens sien wat hy doen, het hulle eenparig aandag gegee aan wat hy sê.
7 Want die •onrein geeste in baie mense het met 'n groot geskreeu uit hulle uitgegaan, en talle verlamdes en kreupeles is genees.
8 En daar het groot vreugde in daardie stad geheers.
9 Voorheen was daar in die stad 'n man met die naam Simon, wat towery bedryf en die bevolking van Samaria verstom het, en beweer het dat hy iets besonders is.
10 En almal, klein en groot, het hom aangehang en gesê: “Hy is die krag van God, bekend as die Groot Krag.”
11 Hulle het hom aangehang, omdat hy hulle al vir 'n geruime tyd met sy magiese kunste verbyster het.
12 Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die •koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop.
13 Simon self het ook tot geloof gekom, en nadat hy gedoop is, het hy heeltyd by Filippus gebly, en was verbaas om die tekens en kragtige dade te sien gebeur.
14 Toe die •apostels in Jerusalem hoor dat Samaria die woord van God aangeneem het, het hulle •Petrus en Johannes daarheen gestuur.
15 Hulle het gegaan en vir hulle gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang,
16 want Hy het toe nog op niemand van hulle neergedaal nie; hulle was net gedoop in die Naam van die Here Jesus.
17 Hierna het die apostels hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
18 Toe Simon sien dat die Gees deur die handoplegging van die apostels geskenk word, het hy hulle geld aangebied,
19 met die woorde: “Gee vir my ook hierdie mag, sodat elkeen vir wie ek die hande oplê, die Heilige Gees ontvang.”
20 Maar Petrus het vir hom gesê: “Mag jou geld saam met jou in die verderf beland, omdat jy gedink het om die gawe van God deur geld te verkry!
21 Jy het geen aandeel of aanspraak in hierdie saak nie, want jou hart is nie opreg voor God nie.
22 Bekeer jou van hierdie boosheid van jou, en bid die Here dat die bedoeling van jou hart vergewe mag word,
23 want ek sien jy is galbitter en in ongeregtigheid verstrik. ”
24 Maar Simon het geantwoord en gesê: “Bid julle tot die Here vir my dat niks van wat julle gesê het, my oorkom nie.”
25 Nadat hulle kragtig getuig en die woord van die Here verkondig het, het hulle na Jerusalem teruggekeer en die evangelie in talle Samaritaanse dorpe verkondig.
26 'n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is 'n verlate pad.”
27 Hy het toe gereedgemaak en vertrek. En kyk, daar was 'n man van Ethiopië, 'n eunug, 'n hoë amptenaar van die kandake, die koningin van die Ethiopiërs, wat in beheer van haar hele skatkis was en na Jerusalem gegaan het om te aanbid.
28 Hy was op pad terug, en het op sy wa die profeet Jesaja gesit en lees.
29 Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.”
30 Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?”
31 Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit.
32 Die Skrifgedeelte wat hy besig was om te lees, was: “Soos 'n skaap is Hy ter slagting gelei, en soos 'n lam wat stom is voor sy skeerder, so maak Hy sy mond nie oop nie.
33 In sy vernedering is regspraak Hom ontneem, en wie sal sy nageslag kan opnoem? Want sy lewe word van die aarde weggeneem.”
34 Die eunug sê toe vir Filippus: “Ek vra jou, van wie sê die profeet dit – van homself of van iemand anders?”
35 Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36 Langs die pad kom hulle by 'n plek waar daar water is. Die eunug sê toe: “Kyk, water! Wat verhoed dat ek gedoop word?”
37 ...
38 Hy het opdrag gegee dat die wa moet stilhou; en hulle het albei afgeklim tot in die water, Filippus sowel as die eunug, en hy het hom gedoop.
39 Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit.
40 Filippus, egter, is in Asdod gevind. En soos wat hy rondgereis het, het hy die evangelie in al die stede verkondig, totdat hy in Caesarea aangekom het.