Acts 19
1 Terwyl Apollos in Korinthe was, het Paulus deur die hoërliggende gebiede gereis en afgegaan na Efese, waar hy 'n aantal dissipels aangetref het.
2 Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.”
3 Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes ”, het hulle geantwoord.
4 Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop, toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.”
5 Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop.
6 Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom, en hulle het in tale gespreek en geprofeteer.
7 Altesaam was daar ongeveer twaalf mans.
8 Paulus het toe na die •sinagoge gegaan en daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek, geredeneer en hulle probeer oortuig aangaande die •koninkryk van God.
9 Maar aangesien sommige van hulle hardkoppig was en nie wou glo nie, en die Weg voor die menigte beswadder het, het hy weggegaan, die dissipels van hulle afgesonder en daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.
10 Dit het twee jaar lank aangehou, sodat al die inwoners van Asië, Jode en Grieke, die woord van die Here gehoor het.
11 God het deur die hande van Paulus besonder kragtige dade verrig,
12 sodat selfs wanneer sweetdoeke en voorskote wat aan sy lyf was, na siekes geneem is, hulle siektes verdwyn en die bose geeste uitgewyk het.
13 Sommige van die rondreisende Joodse geestebesweerders het ook probeer om die Naam van die Here Jesus uit te spreek oor mense met bose geeste deur te sê: “Ek besweer julle by die Jesus wat Paulus verkondig!”
14 Dit was Skeva, 'n Joodse leierpriester, se sewe seuns wat dit gedoen het.
15 Maar die bose gees het hulle geantwoord: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?”
16 Die man in wie die bose gees was, het hulle bespring en hulle almal oorweldig en die oorhand oor hulle gekry, sodat hulle kaal en gewond uit daardie huis gevlug het.
17 Dit het bekend geword onder al die Joodse en Griekse inwoners van Efese, en vrees het hulle almal oorval, en die Naam van die Here Jesus is verheerlik.
18 Baie van diegene wat gelowig geword het, het na vore gekom, belydenis gedoen en hulle praktyke in die openbaar bekend gemaak.
19 'n Hele aantal van hulle wat towery bedryf het, het hulle •boekrolle saamgebring en voor almal verbrand. Hulle het die waarde daarvan bereken, en bevind dat dit vyftigduisend silwerstukke werd was.
20 So het die woord van die Here kragtig bly groei en steeds sterker geword.
21 Ná hierdie gebeurtenisse het Paulus hom voorgeneem om deur Macedonië en Agaje te reis en na Jerusalem te gaan. Hy het gesê: “Nadat ek daar was, moet ek ook Rome sien.”
22 Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, na Macedonië gestuur, terwyl hy self nog 'n tyd lank in Asië vertoef het.
23 Juis in daardie tyd het daar 'n oproer, van geen geringe omvang nie, oor die Weg ontstaan.
24 'n Man met die naam Demetrius, 'n silwersmid wat Artemistempeltjies uit silwer vervaardig het, het 'n inkomste wat glad nie gering was nie, aan die ambagsmanne verskaf.
25 Hy het hulle, en ook ander wat soortgelyke ambagte beoefen, byeengeroep en gesê: “Manne, julle weet dat ons welvaart van hierdie bedryf afhanklik is,
26 en julle sien en hoor dat hierdie Paulus nie net in Efese nie, maar in byna die hele Asië 'n groot aantal mense oorreed en mislei het deur te sê dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie.
27 Dit hou die gevaar in dat nie net ons beroep in onguns raak nie, maar ook dat die tempel van die groot godin Artemis as onbenullig beskou word en dat sy, wat in die hele Asië en die hele wêreld vereer word, van haar grootheid beroof sal word.”
28 Toe hulle dit hoor, het hulle woedend geraak en geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”
29 En daar het verwarring oor die hele stad gekom; hulle het soos een man na die amfiteater gestorm en Paulus se reisgenote, die Macedoniërs Gaius en Aristargus, saamgesleep.
30 Paulus wou tussen die skare ingaan, maar die dissipels het hom nie toegelaat nie.
31 Ook sommige van die hoë amptenare van Asië wat met hom bevriend was, het vir hom 'n boodskap gestuur en by hom gepleit dat hy hom nie in die teater begewe nie.
32 Intussen het hulle bly skreeu, sommige dit en ander dat, want die volksvergadering was in verwarring, en die meeste het nie eers geweet waarom hulle bymekaargekom het nie.
33 Die Jode het Aleksander na vore gestoot en hom voorgesê. Aleksander het 'n handgebaar gemaak, en wou sy verdediging voor die skare lewer.
34 Maar toe hulle agterkom dat hy 'n Jood is, het een kreet uit almal opgeklink. Hulle het twee ure lank aaneen geskreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”
35 Die stadsklerk het die skare egter tot bedaring gebring en gesê: “Manne van Efese, wie is daar onder die mense wat nie weet dat die stad Efese die beskermer is van die grote Artemis se tempel en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie?
36 Omdat dit nie ontken kan word nie, is dit nodig dat julle tot bedaring kom en niks oorhaastigs aanvang nie.
37 Want hierdie manne wat julle hierheen gebring het, is nie tempelrowers nie, en belaster ook nie ons godin nie.
38 As Demetrius en die ambagsmanne by hom 'n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is prokonsuls daarvoor. Laat hulle mekaar daar aankla.
39 As julle egter iets anders wil hê, dan moet dit op 'n wettige volksvergadering beslis word.
40 Want ons loop reeds gevaar om oor vandag se oproer aangekla te word, aangesien daar geen grond is wat ons as regverdiging vir hierdie opskudding kan aanvoer nie.” Nadat hy dit gesê het, het hy die volksvergadering verdaag.