Bible

Focus

On Your Ministry and Not Your Media

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

2 Timothy 3

:
Afrikaans - AFR20
1 Dit moet jy weet: In die laaste dae gaan daar moeilike tye kom;
2 want die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig, aanmatigend, godslasterlik, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, goddeloos,
3 ongevoelig, genadeloos, beledigend, sonder selfbeheersing, wreed, sonder liefde vir die goeie,
4 verraaiers, roekeloos, hooghartig, lief vir plesier eerder as vir God,
5 mense wat wel 'n skyn van godvresendheid voorhou, maar wat die krag van godvresendheid misken. Bly weg van sulke mense.
6 Want onder hulle is daar diegene wat huisgesinne binnedring, en ligsinnige vroue, oorlaai met sondes, hulle prooi maak vroue wat voortgedryf word deur allerlei begeertes,
7 wat altyd aan die leer is, maar nooit tot volle begrip van die waarheid kan kom nie.
8 En soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, net so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat korrup is in hulle denke en onbetroubaar in hulle geloof.
9 Maar hulle sal nie baie ver kom nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos dit ook met Jannes en Jambres die geval was.
10 Jy het my egter nougeset nagevolg in leer, lewenswandel, voorneme, geloof, geduld, liefde en volharding,
11 in vervolging en lyding, soos wat ek in Antiogië, Ikonium en Listra ervaar het. Watter vervolgings ek ook al verduur het die Here het my van alles gered!
12 Almal wat godvresend in •Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word.
13 Slegte mense en bedrieërs sal van kwaad tot erger gaan, deurdat hulle ander mislei, en mislei word.
14 Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het,
15 en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus.
16 Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam,
17 sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.