Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

2 Samuel 22

:
Afrikaans - AFR20
1 Dawid het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul.
2 Hy het gesê: “Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder.
3 My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord, my skuilplek, my verlosser van geweld het U my verlos.
4 Die Een wat geloof moet word roep ek uit is die Here! En van my vyande word ek verlos.
5 Ja, bande van die dood het my omsluit; strome van vernietiging het my verskrik;
6 bande van die •doderyk het my verstrengel; vangstrikke van die dood het my ingewag.
7 In my benoudheid het ek na die Here bly roep; na my God het ek geroep. In sy paleis het Hy my stem gehoor; my hulpgeroep het sy ore bereik.
8 “Toe het die aarde geskud en geruk; die fondamente van die hemel het gebewe. Dit het geskud want sy toorn het ontbrand:
9 Rook het uit sy neus opgestyg, 'n verterende vuur uit sy mond; gloeiende kole het daaruit opgevlam.
10 Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; diepe duisternis was onder sy voete.
11 Hy het op 'n gerub gery, Hy het gevlieg, verskyn op die vlerke van die wind.
12 Hy het van die donker rondom Hom 'n beskutting gemaak, swaar wolke, waaruit water neersif.
13 Uit die glans voor Hom het gloeiende kole vuur gebrand.
14 Die Here laat uit die hemelruim die donder weerklink; die Allerhoogste laat sy stem hoor.
15 Hy stuur sy pyle en jaag hulle uiteen, weerligstrale, en bring hulle in verwarring.
16 Die beddings van die see het sigbaar geword; die fondamente van die aarde is ontbloot deur die dreiging van die Here, deur die windvlaag uit sy neus.
17 Uit die hoogte het Hy sy hand uitgestrek, my gegryp, my uit die watermassa opgetrek.
18 Hy het my weggeruk van my magtige vyand, weg van my haters, want hulle was sterker as ek.
19 Op die dag van my teenspoed het hulle my ingewag, maar die Here was vir my 'n stut:
20 Hy het my na 'n oopte uitgelei; Hy het my bevry, omdat Hy my goedgesind is.
21 “Die Here het aan my goed gedoen, op grond van my geregtigheid; omdat my hande skoon is, het Hy my vergoed.
22 Want ek het op die Here se paaie gebly; en my nie skuldig gemaak voor my God nie.
23 Ja, ek hou al sy wette voor oë, en sy vaste voorskrifte daarvan wyk ek nie af nie.
24 Ek was onberispelik voor Hom, en het my weerhou van sonde.
25 Die Here het my vergoed, op grond van my geregtigheid, omdat my hande skoon is in sy oë.
26 “Teenoor getroue volgelinge tree U getrou op; teenoor die held wat onberispelik is, tree U onberispelik op;
27 teenoor dié wat hulle rein hou, bewys U Uself rein; maar teenoor dié wat vals is, tree U berekenend op!
28 'n Magtelose volk word deur U verlos, en u hou hoogmoediges dop; U verneder hulle.
29 Ja, U is my lig, Here; die Here verlig my donkerte.
30 Ja, met U hardloop ek oor 'n skans, met my God spring ek oor 'n muur.
31 “God, sy weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is 'n skild vir almal wat by Hom skuil.
32 Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is 'n rots buiten ons God?
33 God is my sterk toevlug; Hy maak my pad volmaak.
34 Hy maak my voete soos dié van wildsbokke; op hoë plekke laat Hy my vasstaan.
35 Hy maak my hande bedrewe vir die geveg, sodat my arms 'n bronsboog kan span.
36 U het vir my u skild van verlossing gegee; u antwoord maak my sterk.
37 U skep ruimte vir my voetstappe; my enkels swik nie.
38 Ek agtervolg my vyande en delg hulle uit; ek draai nie om voordat ek hulle uitgewis het nie.
39 Ek wis hulle uit, ek verpletter hulle, sodat hulle nie opstaan nie; hulle val onder my voete.
40 U omgord my met krag vir die geveg; U laat my teenstanders die knie voor my buig.
41 My vyande U het hulle vir my laat vlug; en my haters ek kon hulle vernietig.
42 Hulle het rondgekyk, maar daar was geen verlosser nie, selfs na die Here gekyk, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.
43 Ek het hulle fyngestamp soos die stof van die aarde; soos modder in die strate het ek hulle verpoeier, ek het hulle vertrap.
44 U het my van die gestry onder my volk bevry; U beskerm my, die hoof van nasies. Mense wat ek nie geken het nie, dien my;
45 vreemdes veins onderdanigheid aan my; sodra hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my.
46 Vreemdes verloor moed; bewend kom hulle uit hulle kerkers.
47 “Die Here leef! Lofwaardig is my rots; die God wat die rots van my verlossing is, is verhewe!
48 God is die Een wat my toelaat om wraak te neem; Hy onderwerp volke aan my,
49 Hy wat my weglei van my vyande. Ja, U verhoog my bo my teenstanders; van manne van geweld ruk U my weg.
50 Daarom sal ek U prys onder die nasies, Here; u Naam sal ek besing.
51 Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee, wat troue liefde bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en sy nageslag vir altyd.