2 Samuel 2
1 Daarna het Dawid die Here geraadpleeg: “Moet ek optrek na een van die stede van Juda?” Die Here het vir hom gesê: “Trek op!” Toe vra Dawid: “Waarheen moet ek optrek?” Hy het geantwoord: “Na Hebron. ”
2 Dawid en ook sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, het daarheen opgetrek.
3 En wat sy manne by hom betref, Dawid het hulle laat optrek, elkeen met sy huisgesin; en hulle het in die dorpies by Hebron gaan bly.
4 Die manne van Juda het gekom en Dawid daar as koning gesalf oor die huis van Juda. Hulle het Dawid ingelig en gesê: “Dit is die manne van Jabes in Gilead wat vir Saul begrawe het.”
5 Dawid het toe boodskappers na die manne van Jabes in Gilead gestuur en hulle laat weet: “Mag julle deur die Here geseën word, omdat julle hierdie trou bewys het aan julle heer, aan Saul, en hom begrawe het.
6 Mag die Here dan nou aan julle guns en trou bewys. Ook ek sal julle beloon vir hierdie daad wat julle gedoen het.
7 Skep nou moed en wees onverskrokke, al is julle heer Saul dood. Net nog dit: Hulle, die huis van Juda, het my gesalf as koning oor hulle.”
8 Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van die leër van Saul, het egter Saul se seun Is-Boset geneem en hom na Maganajim laat oorgaan.
9 Hy het hom koning gemaak oor Gilead, die Asuriete en Jisreël, en ook oor Efraim en Benjamin – oor die hele Israel.
10 Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning geword het oor Israel, en hy het twee jaar regeer. Net die huis van Juda het Dawid gesteun.
11 Dawid was in Hebron koning oor die huis van Juda vir 'n tydperk van sewe jaar en ses maande.
12 Abner, seun van Ner, en die volgelinge van Saul se seun Is-Boset het van Maganajim af uitgetrek na Gibeon.
13 Joab, seun van Seruja, en die volgelinge van Dawid het ook uitgetrek en hulle by die dam by Gibeon teëgekom. Die een groep het aan die een kant van die dam gaan sit en die ander groep aan die ander kant van die dam.
14 “Laat die jong manne bietjie opstaan en voor ons kragte meet,” sê Abner toe vir Joab; waarop Joab antwoord: “Laat hulle opstaan.”
15 Hulle het opgestaan en is in die verbykom afgetel: twaalf vir Benjamin – dit was vir Saul se seun Is-Boset – en twaalf van Dawid se volgelinge.
16 Elkeen het sy teenstander aan die kop beetgekry en sy swaard in die ander se sy gesteek. Saam het hulle geval. Daarom word daardie plek wat by Gibeon is, die veld van Hassurim genoem.
17 Die geveg was daardie dag besonder straf, maar Abner en die manne van Israel is verslaan deur die volgelinge van Dawid.
18 Seruja se drie seuns, Joab, Abisai en Asael, was ook daar. Asael was so vlug van voet soos een van die gaselle in die veld.
19 Asael is agter Abner aan. Hy het nie links of regs afgewyk in sy agtervolging van Abner nie.
20 Abner het omgekyk en gevra: “Is dit jy, Asael?” Hy sê toe: “Dit is ek!”
21 Abner sê toe vir hom: “Draai links of regs weg, en pak een van die jong manne! Vat vir jou sy wapenrusting!” Maar Asael wou nie van agter hom wegdraai nie.
22 Abner sê toe weer vir Asael: “Gee pad hier agter my! Waarom moet ek jou platslaan? Hoe sal ek dan jou broer Joab in die oë kan kyk?”
23 Maar hy het geweier om weg te draai. Toe steek Abner hom met die agterkant van die vegspies in die maag, sodat die vegspies by sy rug uitkom. Hy het net daar geval en op die plek gesterf. Daarna het almal wat aangekom het by die plek waar hy geval en gesterf het, gaan staan.
24 Maar Joab en Abisai het Abner agternagesit. Toe die son besig was om onder te gaan, kom hulle by die Amma-heuwel, wat oos van Giag lê, op pad na die woestyn van Gibeon.
25 Die manne van Benjamin het in een groep agter Abner stelling ingeneem. Hulle het op die top van 'n heuwel gaan staan.
26 Abner roep toe na Joab. Hy het gesê: “Moet die swaard dan vir altyd verteer? Besef jy nie dat dit uiteindelik net bitterheid bring nie? Gaan jy dan nooit vir die manskappe sê om die agtervolging van hulle broers te staak nie?”
27 Joab antwoord toe: “So waar as God leef, as jy nie gepraat het nie, sou die manskappe almal eers teen die môre teruggeval het van die gejaag agter hulle broers aan.”
28 Joab het daarna op die •ramshoring geblaas, en al die manskappe het gaan staan. Hulle het nie meer die Israeliete agtervolg nie, en ook nie verder geveg nie.
29 Abner en sy manne het daardie hele nag deur die Araba getrek. Hulle het die Jordaan oorgesteek, die hele voormiddag getrek en in Maganajim aangekom.
30 Joab het teruggekeer van sy agtervolging van Abner en al die manskappe byeengebring. Van die volgelinge van Dawid het negentien man en Asael ontbreek.
31 Maar die volgelinge van Dawid het onder die Benjaminiete 'n slagting aangerig: Van die manne van Abner was driehonderd-en-sestig dood.
32 Hulle het Asael gedra en hom in sy vader se graf wat by Betlehem is, neergelê. Joab en sy manne het daarna die hele nag getrek, en toe dit lig word, was hulle in Hebron.