2 Kings 6
1 Die profetegroep het vir Elisa gesê: “Kyk, die plek waar ons voor u woon, is te klein vir ons.
2 Laat ons asseblief na die Jordaan gaan en daar elkeen 'n balk kry, sodat ons daar vir ons 'n plek kan maak om te bly.” “Gaan!” het hy gesê.
3 Maar die een sê toe: “Wees asseblief so vriendelik en gaan saam met u dienaars.” Hy het gesê: “Goed, ek sal gaan.”
4 Hy het toe saam met hulle gegaan. Toe hulle by die Jordaan aankom, het hulle die bome afgekap.
5 Maar terwyl die een besig was om 'n balk af te kap, val die byl se kop in die water. Hy roep toe uit en sê: “Ag, my heer, dit was 'n geleende een!”
6 Daarop vra die man van God: “Waar het dit geval?” Hy wys hom toe die plek. Die man van God het 'n stukkie hout afgesny, dit daarheen gegooi en die byl se kop laat dryf.
7 Hy sê toe: “Haal dit vir jou uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit geneem.
8 Die koning van Aram was besig om oorlog te voer teen Israel. Nadat hy met sy amptenare beraadslaag het, sê hy: “By so-en-so 'n plek sal my kamp wees.”
9 Maar die man van God het vir die koning van Israel laat weet: “Wees versigtig om nie by hierdie plek verby te trek nie, want die Arameërs val daarheen terug. ”
10 Daarom het die koning van Israel 'n boodskap gestuur na die plek wat die man van God vir hom aangewys en waarteen hy hom gewaarsku het. Hulle was daar toe op hulle hoede. Dit het nie net een of twee keer gebeur nie.
11 Die koning van Aram was ontsteld hieroor, en het sy amptenare ontbied en vir hulle gesê: “Kan julle my nie inlig wie van ons vir die koning van Israel is nie?”
12 Een van sy amptenare het geantwoord: “Nie een van ons nie, my heer die koning; maar Elisa, die profeet wat in Israel is, deel die koning van Israel die woorde mee wat u in u slaapkamer praat.”
13 Daarop sê hy: “Gaan kyk waar hy is, sodat ek hom kan laat vang.” Toe daar aan hom berig gebring is, “Kyk, hy is in Dotan! ”
14 het hy perde en strydwaens en 'n sterk mag daarheen gestuur. Hulle het in die nag gekom en die dorp omsingel.
15 Toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar sowaar 'n leërmag met perde en strydwaens om die dorp! Sy dienaar sê toe vir hom: “Ag, my heer, wat moet ons doen?”
16 Maar hy het geantwoord: “Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.”
17 Elisa het toe gebid en gesê: “ Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die Here die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur!
18 Toe die Arameërs na hom afkom, bid Elisa tot die Here en sê: “Slaan tog hierdie nasie met blindheid!” Die Here het hulle toe met blindheid geslaan, soos Elisa versoek het.
19 Daarna sê Elisa vir hulle: “Dit is nie die pad hierdie nie, en dit is nie die dorp nie. Volg my, sodat ek julle kan lei na die man na wie julle soek.” Hy het hulle na Samaria gelei,
20 en toe hulle in Samaria kom, sê Elisa: “ Here, maak hierdie mense se oë oop, sodat hulle kan sien.” Die Here het hulle oë oopgemaak, en hulle sien toe hulle is sowaar binne-in Samaria!
21 Toe hy hulle sien, sê die koning van Israel vir Elisa: “Moet ek aanval? Moet ek aanval, my vader? ”
22 Maar hy antwoord: “Jy mag hulle nie aanval nie. Sou jy dié wat jy met jou swaard en boog gevange geneem het, aanval? Sit vir hulle brood en water voor, sodat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan gaan.”
23 Hy het toe vir hulle 'n groot fees voorgesit. Nadat hulle geëet en gedrink het, het hy hulle weggestuur en hulle het na hulle heer toe gegaan. Die roofbendes van die Arameërs het toe nie meer in die gebied van Israel gekom nie.
24 'n Tyd daarna het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër byeengebring, opgetrek en Samaria beleër.
25 Daar was 'n groot hongersnood in Samaria; ja, kyk, hulle het die stad beleër totdat 'n donkiekop teen tagtig sikkel silwer, en 'n kwart kab duiwemis teen vyf sikkel silwer verkoop is.
26 Toe die koning van Israel op die stadsmuur verbyloop, het 'n vrou na hom om hulp geroep: “Help, my heer die koning!”
27 Maar hy het gesê: “Moet die Here jou nie help nie? Waarvandaan moet ek jou help? Van die dorsvloer af? Van die parskuip af?”
28 Die koning sê toe ook vir haar: “Wat is jou probleem?” Sy het geantwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê, ‘Gee jou seun, dat ons hom vandag eet. My seun kan ons môre eet’.
29 Ons het toe my seun gekook en hom geëet, maar toe ek die dag daarna vir haar sê, ‘Gee jou seun, dat ons hom kan eet!’ het sy haar seun weggesteek.”
30 Toe die koning die vrou se woorde hoor, het hy sy klere geskeur, terwyl hy op die stadsmuur verbygaan. Die volk sien toe dat hy sowaar onder sy klere 'n roukleed aan het!
31 Hy sê toe: “Mag God my swaar straf as Elisa, seun van Safat, se kop vandag steeds op sy lyf is!”
32 Terwyl Elisa in sy huis sit, en die oudstes daar by hom sit, het die koning 'n man voor hom uit gestuur. Maar voordat die boodskapper nog by hom aankom, het hy vir die oudstes gesê: “Het julle gemerk dat hierdie moordenaar iemand stuur om my kop af te kap? Wees op die uitkyk. Sluit die deur sodra die boodskapper kom. Druk hom terug met die deur! Is die geluid van sy heer se voetstappe nie agter hom nie?”
33 Hy was nog besig om met hulle te praat, kyk, toe kom die boodskapper al daar na hom toe af! Die koning sê toe: “Kyk, hierdie onheil is van die Here. Waarom sou ek dan nog op die Here wag?”