2 Corinthians 1
1 Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die •gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges in die hele Agaje:
2 Genade en vrede vir julle van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus.
3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging!
4 Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word;
5 want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus.
6 As ons dan verdruk word, is dit ter wille van julle bemoediging en redding; as ons bemoedig word, is dit ter wille van julle bemoediging, wat tot uitdrukking kom deurdat julle met volharding dieselfde lyding verduur as wat ons deurmaak.
7 Ons hoop vir julle is seker, omdat ons weet dat, soos julle deel het aan die lyding, julle ook so deel het aan die bemoediging.
8 Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.
9 Trouens, wat onsself betref, het ons al as't ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek.
10 Op Hom wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred.
11 Hiertoe dra julle ook by deur julle gebede vir ons, sodat deur bemiddeling van baie mense, namens ons dank betuig kan word vir die genadegawe aan ons.
12 Ons roem is juis dit: die getuienis van ons gewete dat ons in die wêreld, en veral teenoor julle, opgetree het in opregtheid en met eerlikheid wat van God kom – ook nie deur menslike wysheid nie, maar deur die genade van God.
13 Ons skryf immers aan julle niks anders as wat julle lees en ook verstaan nie. En ek hoop dat julle later ten volle sal verstaan
14 – soos julle ons ook ten dele verstaan het – dat ons op die dag van ons Here Jesus julle tot roem sal wees, net soos julle ook vir ons.
15 In hierdie vertroue wou ek vroeër na julle kom, sodat julle 'n tweede guns kon ontvang.
16 Ek wou by julle langs deurreis na Macedonië, om weer van Macedonië af na julle terug te kom, en deur julle na Judea toe voortgehelp te word.
17 Ek het tog nie ligtelik gehandel toe ek my dit voorgeneem het nie? Of beplan ek wat ek beplan uit menslike swakheid, sodat, wat my betref “ja, ja” tegelyk “nee, nee” kan wees?
18 Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk “ja” en “nee” nie;
19 want Jesus •Christus, die •Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my en Silvanus en Timoteus, was nie “ja” én “nee” nie – inteendeel, in Hom het dit “ja” geword.
20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “•amen” aan God, tot sy eer.
21 Dit is God wat ons saam met julle in Christus 'n vaste fondament gegee het, en ons gesalf het,
22 wat ons ook verseël en die Gees as waarborg in ons harte gegee het.
23 Wat my betref, ek roep God as getuie oor my dat ek juis om julle te spaar, nog nie weer na Korinthe gekom het nie.
24 Nie dat ons oor julle geloof wil baasspeel nie – inteendeel, ons is medewerkers aan julle vreugde. Julle staan immers vas in die geloof.