Bible

Designed

For Churches, Made for Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

2 Chronicles 8

:
Afrikaans - AFR20
1 Aan die einde van twintig jaar, waarin Salomo die huis van die Here en sy paleis gebou het,
2 het Salomo die dorpe wat Huram vir hom gegee het, herbou en Israeliete daar gevestig.
3 Salomo het toe na Hamat-Soba gegaan en dit oorwin.
4 Hy het Tadmor in die woestyn versterk, asook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het.
5 Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder as versterkte stede met mure, poortdeure en sluitbalke herbou,
6 ook Baälat en al die voorraadstede wat aan Salomo behoort het, al die stede vir die strydwaens en vir die perde, ja, alles wat Salomo ook al graag wou bou in Jerusalem en in die Libanon, in die hele gebied waaroor hy regeer het.
7 Al die mense wat oorgebly het van die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, almal wat nie van Israel was nie,
8 dié van hulle nageslag wat hulle in die land oorgebly en wat nie deur die Israeliete vernietig is nie, hulle is deur Salomo opgeroep vir verpligte dienswerk; dit is vandag nog so.
9 Maar van die Israeliete het Salomo niemand onderwerp aan slawediens vir sy werk nie, want hulle was krygsmanne, bevelvoerders van sy adjudante en •aanvoerders van sy strydwamag en ruitery.
10 Hulle was ook die hoofopsigters van koning Salomo tweehonderd-en-vyftig wat bevel gevoer het oor die mense.
11 Die dogter van die farao is deur Salomo uit die •Stad van Dawid opgeneem na die paleis wat hy vir haar gebou het, want hy het gesê: “'n Vrou van my mag nie in die paleis van Dawid, die koning van Israel, woon nie, want die plekke waar die ark van die Here gekom het, is heilig.”
12 Daarna het Salomo op die altaar van die Here wat hy voor die portaal gebou het, aan die Here •brandoffers gebring
13 volgens die vereiste van elke dag, dit wat, ooreenkomstig die bevel van Moses, geoffer moes word op die Sabbatte, tydens die nuwemaansfeeste en die vaste feestye drie keer per jaar by die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees.
14 Hy het toe, volgens die voorskrif van sy vader Dawid, die afdelings van die priesters laat aantree vir hulle dienswerk, en die Leviete vir hulle verpligtinge om in die teenwoordigheid van die priesters lof te bring en om te dien volgens die vereiste van elke dag. Hy het ook die poortwagte in hulle afdelings laat aantree by elke poort, want dit was die opdrag van Dawid, die man van God.
15 Hulle het nie afgewyk van die koning se opdrag aan die priesters en die Leviete oor enige saak of oor die skatkamers nie.
16 So is al die werk van Salomo uitgevoer, van die dag af dat die fondament van die huis van die Here gelê is tot by die voltooiing daarvan. Die huis van die Here was volledig afgerond.
17 Daarna het Salomo na Es-jon-Geber en na Elat, aan die seekus in die gebied van Edom gegaan.
18 Huram het aan hom skepe onder bevel van sy dienaars beskikbaar gestel, asook dienaars wat die see geken het, en hulle het saam met Salomo se dienaars na Ofir gevaar. Hulle het van daar af vierhonderd-en-vyftig kikkar goud gebring en dit na koning Salomo geneem.