2 Chronicles 4
1 Hy het 'n altaar van brons gemaak, twintig el lank, twintig el breed en tien el hoog.
2 Toe het hy die See gemaak, 'n gietstuk tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. 'n Maatlyn van dertig el kon dit omspan.
3 Aan die onderkant, reg rondom, is 'n beeld van beeste geplaas, tien per el. Hulle was rondom die See gerangskik in twee rye. Die beeste is in een stuk saam met die See gegiet.
4 Dit het op twaalf beeste gestaan – drie wat noord kyk, drie wat wes kyk, drie wat suid kyk en drie wat oos kyk. Die See het bo-op hulle gerus, en al hulle agterlywe was na binne gekeer.
5 Die dikte van die wand was 'n handbreedte, en die rand was soos dié van 'n beker, soos die kelk van 'n narsing. Dit kon drieduisend bat hou.
6 Hy het ook tien waskomme gemaak, en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas om daarin af te spoel – alles wat gebruik is vir die •brandoffer is daarin skoon gespoel. Die See was egter net vir die priesters om hulle in af te spoel.
7 Hy het tien goue menoras gemaak ooreenkomstig die voorskrif daarvoor. Hy het in die hoofvertrek vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas.
8 Hy het ook tien tafels gemaak. Hy het in die hoofvertrek vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas. Daarna het hy honderd goue offerbakke gemaak.
9 Toe het hy die binnehof van die priesters gemaak, asook die groot buitehof en die deure vir die ruimte. Hierdie deure het hy met brons oorgetrek.
10 Die See het hy aan die regterkant geplaas, in die suidoostelike hoek.
11 Toe het Huram die houers, die skoppies en offerbakke gemaak. So het Huram die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo in die huis van God moes doen. Dit was:
12 twee pilare; die twee bolvormige kapitele aan die bopunt van die twee pilare; die twee stelle vlegwerk waarmee die twee bolvormige kapitele aan die bopunt van die pilare bedek is;
13 die vierhonderd granate vir die twee stelle vlegwerk, om die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, te bedek – twee rye granate vir elke stel vlegwerk;
14 die verskuifbare staanders wat hy gemaak het en die waskomme op die staanders;
15 die een See; die twaalf beeste daaronder;
16 die houers, skoppies, drietandvurke en al die bypassende gereedskap. Huram-Abi het dit vir koning Salomo, vir die huis van die Here, gemaak van gepoleerde brons.
17 In die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Seredata, het die koning dit in swaar grond gegiet.
18 Salomo het al hierdie voorwerpe in sulke groot hoeveelhede gemaak dat die gewig van die brons nie vasgestel kon word nie.
19 Salomo het al die voorwerpe wat in die huis van God was, gemaak: die goue altaar; die tafels waarop die •vertoonbrode was;
20 die menoras en hulle lampe van fyngoud, om volgens voorskrif voor die heiligdom te brand;
21 die goue blomknoppe, lampe en snuiters – dit was van die suiwerste goud;
22 die messe, offerbakke, skottels en die vuurpanne van fyngoud, die toegang na die •tempel, dit is sy binnedeure na die •Allerheiligste, en die deure van die tempel na die hoofvertrek – dit alles was van goud.