Bible

Create

Inspiring Presentations Without Hassle

Try Risen Media.io Today!

Click Here

1 Samuel 10

:
Afrikaans - AFR20
1 Samuel het die fles met olie geneem en dit op Saul se kop uitgegiet. Hy het hom gesoen en vir hom gesê: “Is dit nie so dat die Here jou as leier oor sy erfdeel gesalf het nie?
2 Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by die graf van Ragel, by Selsag, in die gebied van Benjamin. Hulle sal vir jou sê, ‘Die donkiemerries wat jy gaan soek het, is gevind. Kyk, jou pa het die saak van die donkiemerries al laat vaar. Hy is besorg oor julle en vra: “Wat moet ek doen oor my seun?”
3 “As jy daarvandaan verder gaan, sal jy by die akkerboom van Tabor kom. Daar sal drie mans wat opgaan na God in Bet-El, jou teëkom. Een dra drie bokkies, een dra drie rondebrode en een dra 'n kruik wyn.
4 Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en vir jou twee brode gee. Jy moet dit uit hulle hand aanvaar.
5 “Daarna sal jy by Gibea van God uitkom, waar wagposte van die Filistyne is. Sodra jy daar die stad binnegaan, sal jy 'n groep profete raakloop wat afkom van die •offerhoogte af. Voor hulle word daar op harpe, tamboeryne, fluite en liere gespeel, terwyl hulle in geestesvervoering is.
6 Die Gees van die Here sal jou oorweldig, en jy sal saam met hulle in geestesvervoering wees. Jy sal in 'n ander mens verander word.
7 “Wanneer hierdie tekens vir jou vervul word, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou.
8 Jy moet voor my uit na Gilgal toe afgaan. Kyk, ek sal na jou toe afkom om •brandoffers te offer en •maaltydoffers te slag. Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou aankom en jou te kenne gee wat jy moet doen.
9 Net toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander. Al hierdie tekens is dieselfde dag nog vervul.
10 Toe hulle daar in Gibea aankom kyk, daar kom die groep profete hom tegemoet! Die Gees van God het hom oorweldig, en hy was tussen hulle in geestesvervoering.
11 Toe almal wat hom voorheen geken het, sien dat hy sowaar saam met profete profeteer, het hulle vir mekaar gevra: “Wat is dit wat met die seun van Kis gebeur het? Is Saul ook onder die profete?”
12 Iemand wat daar was, het gevra: “En wie is hulle vader? Daarom het dit 'n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?”
13 Toe Saul uit sy geestesvervoering kom, het hy na die offerhoogte gegaan.
14 Saul se oom het vir hom en sy handlanger gevra: “Waarheen het julle gegaan?” “Om die donkies te gaan soek,” het hy geantwoord, “en toe ons sien dat hulle nie daar is nie, het ons na Samuel gegaan.”
15 Saul se oom toe: “Vertel my tog wat het Samuel vir julle gesê.”
16 Saul het sy oom geantwoord: “Hy het ons maar net verseker dat die donkiemerries gevind is. Oor die saak van die koningskap waaroor Samuel gepraat het, het Saul egter niks vir hom gesê nie.
17 Samuel het die volk opgeroep na die Here in Mispa.
18 Hy het vir die Israeliete gesê: “So die Here, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het.’
19 “Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel. Neem dan nou plek in voor die Here volgens julle stamme en volgens julle afdelings.”
20 Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam van Benjamin is aangewys.
21 Hy het die stam van Benjamin volgens familiegroepe laat nader kom, en die familiegroep van Matri is aangewys. Toe is Saul, seun van Kis, aangewys. Hulle het hom gesoek, maar hy kon nie gevind word nie.
22 Hulle het die Here weer geraadpleeg: “Het nog iemand hierheen gekom?” Die Here het gesê: “Kyk, hy kruip weg by die pakgoed.”
23 Hulle het gehardloop en hom van daar af gebring. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk.
24 Samuel toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die hele volk nie.” Die hele volk het hom toegejuig met die woorde: “Lank lewe die koning!”
25 Samuel het toe met die volk gepraat oor die regte verbonde aan die koningskap, en dit in 'n •boekrol geskryf. Hy het dit voor die Here neergelê. Daarna het Samuel die hele volk laat gaan, elkeen na sy huis.
26 Ook Saul het na sy huis in Gibea gegaan. Bekwame manne wie se harte deur God aangeraak is, het saam met hom gegaan.
27 Maar booswigte het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” En hulle het hom geminag en geen geskenk vir hom geneem nie, maar hy het hom doof gehou.