Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

1 Kings 7

:
Afrikaans - AFR20
1 Aan sy paleis het Salomo dertien jaar lank gebou, en toe was sy hele paleis voltooi.
2 Hy het die saal, Bos van die Libanon, gebou, met vier rye pilare van sederhout, en balke van sederhout op die pilare; dit was honderd el lank, vyftig el breed en dertig el hoog.
3 Dit was bo bedek met sederhout, oor die balke wat op die pilare gerus het. Daar was vyf-en-veertig balke, vyftien in 'n ry.
4 Daar was drie rye vensteropeninge, telkens regoor mekaar, in groepe van drie.
5 Al die ingange en openinge het vierkantige rame gehad. Teenoor elke opening was daar 'n opening, in groepe van drie.
6 Die suilesaal het hy vyftig el lank en dertig el breed gemaak. Daar was 'n portaal aan die voorkant, en pilare met 'n afskorting voor.
7 Hy het die troonsaal gemaak, die regsaal, waar hy regspraak moes lewer. Dit was bedek met sederhout van die vloer tot by die dakbalke.
8 Sy paleis waarin hy sou woon, wat deur 'n ander voorhof vanuit die troonsaal bereik kon word, is op dieselfde wyse gebou. Vir die farao se dogter wat Salomo as vrou geneem het, sou hy 'n woning oprig op dieselfde wyse as hierdie saal.
9 Al hierdie bouwerk is gedoen met klippe van goeie gehalte, volgens die afmetings van gekapte klip, afgewerk met 'n klipsaag aan die binne- en buitekant van die fondament af tot by die dakrant en buite tot by die groot voorhof.
10 Die fondament is gelê met groot klippe van goeie gehalte, klippe van tien el en klippe van agt el.
11 Van daar af boontoe was dit klippe van goeie gehalte, volgens maat gekap, en sederhout.
12 Rondom 'n groot voorhof was daar drie lae gekapte klip en 'n laag sederhoutbalke, net soos by die binneste voorhof van die huis van die Here en die portaal van die •tempel.
13 Daarna het koning Salomo vir Hiram van Tirus af ontbied.
14 Hy was die seun van 'n weduwee uit die stam van Naftali, maar sy vader was 'n man uit Tirus, 'n bewerker van brons. Hy het beskik oor die vaardigheid, insig en kennis om alle soorte bronswerk te doen. Hy het by koning Salomo aangekom en al die werk uitgevoer wat aan hom opgedra is.
15 Hiram het die twee bronspilare gegiet. Agttien el was die hoogte van elke pilaar, en 'n maatlyn van twaalf el kon die tweede pilaar omspan.
16 Verder het hy twee kapitele van gegote brons gemaak om op die koppe van die pilare te plaas. Die hoogte van die een kapiteel was vyf el, en die hoogte van die ander kapiteel was vyf el.
17 Gevlegte traliewerk en kranse, gevorm met kettinkies, was aan die kapitele wat op die koppe van die pilare was sewe rye aan die een kapiteel en sewe rye aan die ander kapiteel.
18 Hy het die pilare gemaak met twee rye granate om die een strook vlegwerk. Dit was om die kapitele te bedek wat op die kop van die pilare was. Hy het net so gemaak met die tweede kapiteel.
19 Die kapitele wat op die kop van die pilare in die portaal was, was gevorm soos 'n narsing, vier el hoog;
20 dit is nou die kapitele op albei die pilare aan die bokant, net langs die ronding wat oorloop in die vlegwerk. Daar was tweehonderd granate in rye gerangskik, rondom elkeen van die kapitele.
21 Hy het die pilare opgerig by die portaal van die hoofvertrek. Hy het 'n pilaar aan die regterkant opgerig en dit Jagin genoem; hy het ook 'n pilaar aan die linkerkant opgerig en dit Boas genoem.
22 Die bopunt van die pilare het die vorm van 'n narsing gehad. So is die werk aan die pilare afgehandel.
23 Toe het hy die See gemaak, 'n gietstuk, tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. 'n Maatlyn van dertig el kon dit omspan.
24 Daar was •kolokwinte reg rondom aan die onderkant van die rand, tien kolokwinte per el rondom die See gerangskik. Die twee rye kolokwinte is in een stuk gegiet saam met die See.
25 Dit het op twaalf beeste gestaan drie wat noord kyk, drie wat wes kyk, drie wat suid kyk en drie wat oos kyk. Die See het bo-op hulle gerus, en al hulle agterlywe was na binne gekeer.
26 Die dikte van die wand was 'n handbreedte, en die rand was soos dié van 'n beker, soos die kelk van 'n narsing. Dit kon tweeduisend bat hou.
27 Hy het tien verskuifbare staanders van brons gemaak. Elke staander was vier el lank, vier el breed en drie el hoog.
28 Dit is hoe die staanders gemaak is: Dit het rame gehad, met raamwerk tussen die dwarssporte.
29 Op die raamwerk wat tussen die dwarssporte was, was daar leeus, beeste en gerubs, en so ook op die dwarssporte aan die bokant. Aan die onderkant van die leeus en beeste was daar randversierings uitgeklop.
30 Daar was vier bronswiele aan elke staander, met bronsasse. Die vier hoekstyle het steunpunte gehad. Die steunpunte was onder die waskom vasgegiet; teenoor elkeen was daar randversierings.
31 Die opening in die staander was binne-in die kroonlys, een el diep. Die opening was rond, gevorm as 'n voetstuk van een en 'n half el. Selfs aan die opening was daar graveerwerk. Die rame was egter vierkantig, nie rond nie.
32 Die vier wiele was aan die onderkant van die rame, en die asse van die wiele was aan die staander vas. Die hoogte van elke wiel was een en 'n half el.
33 Die wiele se vorm was dieselfde as dié van 'n strydwa: Die asse, vellings, speke en nawe was alles gegiet.
34 Daar was vier steunstukke aan die vier hoeke van elke staander vas. Dit was 'n deel van die staander.
35 Bo die staander het 'n sirkelvormige rand 'n halwe el hoog uitgestaan. En bo-aan die staander was die handvatsels en rame deel daarvan.
36 Hiram het gerubs, leeus en palmette gegraveer op die plat dele van die handvatsels en die raamwerk, oral waar daar plek was, met randversierings rondom.
37 So het hy dan die tien staanders gemaak, eenders gegiet, met dieselfde mate en dieselfde vorm vir almal.
38 Daarna het Hiram tien bronswaskomme gemaak: elke waskom kon veertig bat hou; elke kom was vier el in deursnee en op elk van die tien staanders was daar een kom.
39 So het hy die verskuifbare staanders geplaas: vyf aan die regterkant van die tempel en vyf aan die linkerkant van die tempel. Die See het hy in die regterflank van die tempel geplaas, in die suidoostelike hoek.
40 Daarna het Hiram die houers, skoppies en offerbakke gemaak. So het Hiram al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo in die huis van die Here moes doen:
41 twee pilare; die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die twee pilare was; die twee stelle vlegwerk waarmee die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, bedek is;
42 die vierhonderd granate vir die twee stelle vlegwerk om die twee bolvormige kapitele wat aan die bopunte van die pilare was, te bedek twee rye granate vir elke stel vlegwerk;
43 die tien verskuifbare staanders; die tien waskomme op die staanders;
44 die een See; die twaalf beeste onder die See;
45 die houers, skoppies en offerbakke. Al hierdie voorwerpe wat Hiram vir koning Salomo gemaak het vir die huis van die Here was van gepoleerde brons.
46 In die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, het die koning dit in kleivorms gegiet.
47 Omdat al hierdie voorwerpe so uitermate swaar was, het Salomo dit nie geweeg nie. Die gewig van die brons kon nie vasgestel word nie.
48 Salomo het al die voorwerpe wat in die huis van die Here was, gemaak: die goue altaar; die tafel van goud waarop die vertoonbrode was;
49 die menoras van fyngoud vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant voor die heiligdom; die goue blomknoppe, lampe en snuiters;
50 die bakke, messe, offerbakke, skottels en die vuurpanne van fyngoud; die goue beslag vir die deure na die binneste vertrek, die Allerheiligste, en vir die deure na die tempel, die hoofvertrek.
51 Toe al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het Salomo die •heilige gawes van sy vader Dawid, die silwer en goud en ander voorwerpe, na binne geneem en dit in die skatkamers van die huis van die Here geplaas.