1 John 1
1 Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aandagtig bekyk het, en wat ons hande aangeraak het aangaande die Woord van die Lewe, dit verkondig ons aan julle.
2 Dié lewe is geopenbaar, en ons het dit gesien, en ons getuig daarvan, en verkondig aan julle die ewige lewe, wat by die Vader was, en aan ons geopenbaar is.
3 Ja, wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons ook aan julle, sodat ook julle aan ons verbonde kan wees. En ons verbondenheid is aan die Vader en aan sy Seun Jesus •Christus.
4 Ons skryf hierdie dinge, sodat ons blydskap volkome kan wees.
5 Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
6 As ons sê dat ons aan Hom verbonde is, en tog in die duisternis leef, lieg ons, en leef ons nie volgens die waarheid nie;
7 maar as ons in die lig leef, soos wat Hy in die lig is, is ons aan mekaar verbonde, en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
8 As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie.
9 As ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, en daarom sal Hy ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad reinig.
10 As ons sê dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.