Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

1 Corinthians 6

:
Afrikaans - AFR20
1 Hoe durf enigeen van julle wat 'n klag teen 'n ander het, dit deur die onregverdiges laat besleg en nie deur heiliges nie?
2 Of weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? As die wêreld dan deur julle geoordeel gaan word, is julle onbevoeg vir die nietigste regsake?
3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie? Hoeveel te meer die dinge van die alledaagse lewe?
4 As julle 'n regsgeding oor alledaagse sake het, laat julle dit besleg deur mense wat geen aansien in die •gemeente het nie?
5 Ek hierdie dinge om julle te beskaam. Is daar dan nie eers een wyse onder julle wat in staat is om reg te spreek oor sy broer nie?
6 Maar daag 'n gelowige 'n medegelowige eerder voor die hof, en dit voor ongelowiges?
7 Dit is reeds 'n volslae nederlaag vir julle dat julle hofsake teen mekaar maak. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie besteel nie?
8 Maar júlle besteel en pleeg onreg, en dit nogal teenoor broers.
9 Weet julle nie dat onregverdiges die •koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer,
10 of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.
11 So was sommige van julle ook, maar julle het julle laat was, julle is geheilig, en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus •Christus en deur die Gees van ons God.
12 “Alles is my geoorloof,” maar nie alles is voordelig nie. “Alles is my geoorloof,” maar ek sal my deur niks laat oorheers nie.
13 “Kos is vir die maag en die maag vir kos,” maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam.
14 Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek.
15 Weet julle nie dat julle liggame ledemate van •Christus is nie? Sal ek dan die ledemate van Christus neem en deel maak van 'n prostituut? Beslis nie!
16 Of weet julle nie dat iemand wat met 'n prostituut gemeenskap het, een liggaam met haar word nie? Daar staan immers: “Die twee sal een liggaam wees.”
17 Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom.
18 Vlug weg van onsedelikheid. Elke sonde wat 'n mens doen, is buite sy liggaam, maar iemand wat seksueel losbandig optree, sondig teen sy eie liggaam.
19 Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie?
20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.