Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

1 Corinthians 4

:
Afrikaans - AFR20
1 moet mense ons beskou: as diensknegte van •Christus en as bedienaars van die verborgenhede van God.
2 Boonop word van sulke bedienaars verwag dat elkeen van hulle getrou bevind sal word.
3 Vir my is dit nie 'n belangrike saak of ek deur julle of deur enige menslike regbank beoordeel word nie; trouens, ek beoordeel nie eers myself nie.
4 Ek is nie bewus van enigiets teen my nie, maar dit beteken nie dat ek regverdig is nie. Hy wat my beoordeel, is die Here.
5 Gevolglik moet julle nie reeds oordeel voordat die Here kom nie. Hy sal die verborge dinge van die duisternis aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Dan sal elkeen afsonderlik van God lof ontvang.
6 Hierdie dinge, broers, het ek om julle onthalwe op myself en Apollos van toepassing gemaak, sodat julle deur ons kan leer om julle nie te verhef bo wat geskryf is nie, sodat niemand homself belangrik sal ag omdat hy vir die een is en teen 'n ander nie.
7 Want wie ag jou belangrik? En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? As jy dit dan ontvang het, waarom beroem jy jou daarop asof jy dit nie ontvang het nie?
8 Julle is mos reeds versadig! Julle is reeds ryk! Sonder ons het julle soos konings begin regeer. Het julle maar waarlik regeer, sodat ons saam met julle kon regeer!
9 Dit lyk vir my of God ons •apostels as die heel laastes aangewys het, asof ons ter dood veroordeel is, omdat ons 'n skouspel geword het vir die wêreld, vir engele sowel as vir mense.
10 Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus; ons is swak, maar julle sterk; julle geëerd, maar ons sonder eer.
11 Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is karig geklee, word geslaan, swerf dakloos,
12 en swoeg deur met ons eie hande te werk. Word ons beledig, seën ons; word ons vervolg, verdra ons;
13 word ons belaster, antwoord ons beleefd. Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing tot nou toe.
14 Ek skryf nie hierdie dinge om julle skaam te maak nie, maar om julle as my geliefde kinders tereg te wys.
15 Want selfs al het julle 'n menigte opvoeders in •Christus, het julle nie baie vaders nie. Deur die evangelie het ek in Christus Jesus julle vader geword.
16 Ek doen dus 'n ernstige beroep op julle: Volg my voorbeeld!
17 Om hierdie rede het ek Timoteus, my geliefde en getroue kind in die Here, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my lewenswyse in Christus Jesus, soos wat ek oral, in elke •gemeente, onderrig gee.
18 Sommige van julle het verwaand geword, asof julle aangeneem het dat ek nie na julle kom nie;
19 maar as die Here wil, sal ek binnekort na julle kom. Dan sal ek die verwaandes se krag leer ken, en nie net hulle gepraat nie;
20 want die •koninkryk van God bestaan nie uit 'n gepraat nie, maar uit krag.
21 Wat verkies julle? Dat ek met 'n slaanstok na julle kom, of in liefde en 'n gees van sagmoedigheid?