Bible

Engage

Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

1 Corinthians 11

:
Afrikaans - AFR20
1 Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van •Christus volg.
2 Ek prys julle, omdat julle altyd aan my dink, en omdat julle vashou aan die tradisies, soos ek dit aan julle oorgelewer het.
3 Maar ek wil julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.
4 Elke man wat met 'n bedekking op sy kop bid of profeteer, doen sy hoof oneer aan.
5 En elke vrou wat met 'n onbedekte kop bid of profeteer, doen haar hoof oneer aan; want dit is presies dieselfde asof haar kop geskeer is.
6 Want as 'n vrou nie haar kop bedek nie, moet sy ook maar haar hare kort afsny. As dit vir haar 'n skande is om haar hare kort te sny of haar kop kaal te skeer, moet sy haar kop bedek.
7 'n Man behoort nie sy kop te bedek nie, omdat hy die beeld en sieraad van God is, terwyl die vrou die sieraad van die man is.
8 Want die man is nie uit die vrou geneem nie, maar die vrou uit die man;
9 en die man is nie ter wille van die vrou geskep nie, maar die vrou ter wille van die man.
10 Daarom moet die vrou, ter wille van die engele, 'n teken van gesag op haar kop hê.
11 Nogtans bestaan 'n vrou nie apart van 'n man nie en 'n man nie apart van 'n vrou nie in die Here
12 want soos die vrou daar is uit die man, so ook is die man daar deur die vrou. Maar alle dinge kom van God.
13 Oordeel julle self onder mekaar: Is dit gepas vir 'n vrou om met 'n onbedekte kop tot God te bid?
14 Leer juis die natuurlike orde julle nie dat as 'n man sy hare lank dra, dit vir hom 'n oneer is,
15 maar as 'n vrou haar hare lank dra, dit vir haar 'n eer is nie? Want lang hare is vir haar as 'n bedekking gegee.
16 As iemand egter twisgierig wil wees ons het nie so 'n gewoonte nie, en die ander •gemeentes van God ook nie.
17 In my volgende voorskrif prys ek julle nie aan nie, dat wanneer julle bymekaarkom, dit meer kwaad as goed doen.
18 Allereers hoor ek dat wanneer julle as •gemeente saamkom, daar verdeling onder julle is; en in 'n mate glo ek dit,
19 want daar moet onvermydelik groeperings onder julle kom, sodat dit duidelik kan word wie die beproefdes onder julle is.
20 Wanneer julle saamkom, is dit nie werklik om die Here se maaltyd te eet nie;
21 want elkeen gaan voort om sy eie maaltyd te eet, en een bly honger, en 'n ander word dronk.
22 Het julle dan nie huise waar julle kan eet en drink nie? Of minag julle die gemeente van God, en verneder julle diegene wat niks het nie? Wat kan ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Oor hierdie saak prys ek julle nie.
23 Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem,
24 en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.”
25 So ook met die beker die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.”
26 Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.
27 Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here.
28 Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink.
29 Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om 'n oordeel oor homself te eet en te drink.
30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en 'n hele paar het reeds ontslaap.
31 Indien ons onsself deeglik sou beoordeel, sou ons nie geoordeel word nie.
32 As ons deur die Here geoordeel word, word ons gedissiplineer, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel sal word nie.
33 Daarom, my broers, wag vir mekaar wanneer julle saamkom om te eet.
34 As iemand honger is, laat hy tuis eet, sodat julle nie 'n oordeel oor julle bring wanneer julle saamkom nie. Die oorblywende sake sal ek reël sodra ek kom.