Revelation 18
1 Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek gesien dat 'n ander engel uit die hemel kom. Die engel was baie sterk, hy kon baie dinge doen, en die lig wat om hom was, het dit lig gemaak op die aarde.
2 Die engel het hard geskree en gesê: “ Babilon, die groot stad, is afgebreek en plat! Ja, dit is plat! Die duiwels woon nou daar, al die onrein geeste kom daar bymekaar, al die onrein voëls kom daar bymekaar, al die onrein diere kom daar bymekaar, mense hou niks van daardie diere nie.
3 Babilon is plat op die grond, want sy was soos 'n prostituut! Die mense van al die volke het onsedelik met haar gelewe, hulle het aangehou, hulle wou meer en meer kry! Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met haar en die handelaars van die aarde het ryk geword, want sy was sterk en het graag duur goed gekoop!”
4 Toe het ek gehoor dat Iemand in die hemel sê: “My volk, julle moet uitkom uit daardie stad! Dan sal julle nie sonde doen saam met die mense van die stad nie, en God sal julle nie saam met hulle straf nie!
5 Die mense van daardie stad doen baie sondes, dit is 'n groot hoop sondes, dit is so hoog soos die hemel! Ja, God het onthou dat hulle verkeerde dinge gedoen het!
6 Julle moet dieselfde aan hulle doen wat hulle aan julle gedoen het, julle moet hulle twee maal straf vir elke verkeerde ding wat hulle gedoen het! Hulle het vir julle die beker van swaarkry gegee om te drink. Nou moet julle twee maal die beker van swaarkry vir húlle gee om te drink!
7 Die mense van daardie stad is soos 'n vrou wat haarself baie mooi gemaak het en baie duur goed gekoop het. Nou moet julle haar baie laat seerkry en baie laat swaarkry! Want sy sê vir haarself: ‘Ek is 'n koningin! Ek is nie 'n weduwee nie! Ek sal nooit huil en treur nie!’
8 Daarom sal Ek haar op een dag baie maal straf: Sy sal pes kry, sy sal treur, sy sal honger wees, die Here God sal haar verbrand, want Hy straf haar en Hy is sterk!”
9 Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met die stad Babilon, en hulle het saam met haar duur goed gekoop. Maar hulle sal sien hoe sy brand, en hulle sal huil en kla oor haar.
10 Hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. En hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Dit gaan sleg met Babilon, die sterk stad! God het haar vinnig gestraf, Hy het haar in een uur gestraf!”
11 En die handelaars van die aarde sal huil en kla oor haar, want daar is niemand wat hulle goed koop nie.
12 Niemand koop hulle goud, silwer, edelstene en pêrels nie. Niemand koop fyn materiaal, pers materiaal, sy, en materiaal wat rooi is nie. Niemand koop die baie soorte hout wat lekker ruik, die baie soorte goed van ivoor, die baie soorte goed van duur hout, van koper, yster en marmer nie.
13 Ja, niemand koop die handelaars se kaneel, speserye, wierook, lekkerruik-olie, speserye wat lekker ruik, wyn, olyf-olie, die beste meel, koring, beeste, skape, perde, waens, slawe en mense nie.
14 Ja, Babilon, jy het gehou van baie goed, maar nou is dit alles weg, al die duur goed, al die blink goed, jy sal dit nooit weer sien nie!
15 Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla.
16 Hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy het mooi klere gedra, die materiaal was pers en baie rooi! Sy het goue goed gedra en sy het mooi gelyk, sy het edelstene en pêrels gedra!
17 Maar in een uur het God die stad leeggemaak, die stad wat so ryk was!” Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk.
18 Hulle het gesien hoe die stad brand, en hulle het geskree en gesê: “Daar was nie 'n ander stad wat so wonderlik was soos hierdie groot stad nie!”
19 En hulle het stof op hulle koppe gegooi en gehuil en gekla. Hulle het gesê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy was ryk en sy het almal ryk gemaak wat skepe op die see het. Maar God het haar in een uur leeggemaak!”
20 Ja, die hemel moet juig! En al die mense wat aan God behoort, moet juig! En die apostels en die profete moet juig! Want Babilon het vir júlle gestraf, maar nou het God háár gestraf!
21 'n Sterk engel het 'n klip opgetel, die klip het soos 'n groot maalklip gelyk. Hy het die klip in die see gegooi en gesê: “God sal vir Babilon ook so gooi! Sy sal hard val, en die mense sal haar nooit weer sien nie!
22 Niemand sal weer hoor dat iemand in die stad harp speel nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar sing nie! Niemand sal weer hoor dat iemand daar 'n fluit of 'n trompet blaas nie! Niemand sal weer hoor dat 'n ambagsman daar werk nie! Niemand sal weer hoor hoe iemand daar koring maal nie!
23 Die lig van 'n lamp sal nooit weer in Babilon brand nie! En niemand sal weer die stemme van 'n bruid en 'n bruidegom daar hoor nie! Want, Babilon, jou handelaars was die belangrikste handelaars in die wêreld, en jy het getoor en jy het die mense van al die volke verkeerde dinge laat doen!
24 Want jy het die profete doodgemaak en ook die mense wat aan God behoort! Ja, jy het baie mense op die aarde doodgemaak!”