Psalms 74ABA

1'n Lied van Asaf. O God, hoekom het U ons weggegooi? Wil U altyd kwaad bly vir ons, vir ons wat u eie volk is?

2U moenie die mense vergeet wat bymekaarkom om U te dien nie, die mense wat U lank gelede vir U geneem het. U het hulle vrygemaak om die volk te wees wat aan U behoort. U moenie die Sionsberg vergeet nie, die plek waar U woon.

3U moet kom kyk na die hope klippe wat so lank hier lê. Die vyande het alles in die tempel verwoes.

4U vyande het soos leeus gebrul binne-in die plek waar U aan die volk verskyn het wat aan U behoort. Hulle het hulle vlae daar kom neersit om te wys dat hulle gewen het.

5Dit het gelyk soos wanneer mense bosse afkap met byle,

6hulle het die mooi houtwerk in die tempel stukkend geslaan met byle en ysters.

7Hulle het u tempel afgebrand, hulle het die plek waar U self gewoon het, afgebreek tot op die grond en hulle het dit ontwy.

8Hulle wou ons heeltemal breek, hulle het elke plek in die land afgebreek waar God aan mense verskyn het.

9U het altyd vir ons gesê wat U wil doen, maar U sê dit nie meer vir ons nie. Daar was profete, maar nou is daar nie een nie, daar is niemand by ons wat weet hoe lank dit nog so sal aanhou nie.

10O God, hoe lank sal die vyande nog aanhou spot? Hoe lank sal hulle nog aanhou om u Naam te laster? Vir altyd?

11Hoekom steek U nie u hand uit en help ons nie? Hoekom maak U nie die vyande dood nie?

12God is my Koning van lank gelede af, dit is Hý wat mense op die aarde red.

13O God, dit is U wat sterk is, U het die see in twee gebreek. U het die koppe van die watermonsters in die water stukkend geslaan.

14Dit is U wat die koppe van die watermonster Leviatan stukkend getrap het en wat hom vir die haaie gegee het om op te vreet.

15Dit is U wat fonteine en riviere laat vloei het, dit is U wat riviere laat droog word het waar daar altyd water was.

16Die dag en ook die nag behoort aan U. Dit is U wat die son en die maan op hulle plekke gesit het.

17Dit is U wat gesê het waar die grense van die land moet wees. U het die somer en die winter gemaak.

18Here, U moenie vergeet hoe die vyande U beledig het nie, hulle is dwase mense en hulle sê u Naam is nie belangrik nie.

19U moenie dat hierdie mense aanhou wen teen u volk nie, hierdie mense wat soos wilde diere is. U moenie u volk wat swak is, vir altyd vergeet nie, u volk wat homself nie kan help nie.

20U moet onthou dat U 'n verbond met ons gemaak het, want in elke donker plek in die land maak hulle die mense seer wat aan U behoort.

21U moenie die mense laat verloor wat hulleself nie kan beskerm nie. Die mense wat hulleself nie kan help nie en wat niks het nie, wil u Naam prys.

22O God, U moet kom help, U moet Uself verdedig, want dwase mense hou aan om U te beskuldig en te beledig.

23U moenie vergeet wat u vyande gesê het nie, U moenie vergeet hoe die mense wat teen U opstandig is, aangehou skree en raas het nie.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 74.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.