1Van Salomo. O God, U moet vir die koning leer om reg te regeer en om reg te doen soos U.
2Ons bid dat hy reg sal regeer oor u volk, dat hy reg sal oordeel oor mense wat aan U behoort en wat hulleself nie kan help nie.
3Daar moet vrede wees en almal moet reg doen in die hele land, tot op die berge en die heuwels.
4Die koning moet reg doen aan die mense wat hulleself nie kan help nie, hy moet die arm mense red en hy moet die mense straf wat ander mense laat swaarkry.
5O God, die mense moet vir U dien so lank soos die son en die maan daar is, in hierdie geslag en in elke geslag daarna.
6Die koning moet vir sy mense wees soos reën op grond waar die gras kort is, soos swaar reën wat die aarde natmaak.
7Dit moet baie goed gaan met elkeen wat reg doen, daar moet vrede wees vir almal so lank soos die koning lewe, so lank soos die maan daar is.
8Die koning moet regeer van die een see tot by die ander see, van die Eufraat-rivier tot by die verste plekke op die aarde.
9Die mense wat in die woestyn woon, moet voor die koning kom buig, sy vyande moet voor hom op die grond kom lê.
10Konings van die land Tarsis en van die eilande moet vir hom presente bring, konings van die lande Skeba en Seba moet aan hom belasting betaal.
11Al die konings moet voor hom buig, al die volke moet vir hom werk.
12Want die koning sal die arm mense red wat vra dat hy hulle moet help, die mense wat hulleself nie kan help nie en vir wie niemand wil help nie.
13Hy sal jammer wees vir die arm mense, die mense wat niks het nie, hy sal die lewens van die arm mense red.
14Hy sal hulle wegneem van die mense wat hulle seermaak en hulle laat swaarkry. Die arm mense se lewens is vir die koning kosbaar, niemand mag hulle doodmaak nie.
15Die koning moet lank lewe. Mense moet vir hom goud bring uit Skeba, hulle moet aanhou bid vir hom, hulle moet die hele dag bid en vra dat dit goed sal gaan met hom.
16Daar moet baie koring in die land wees, dit moet oral groei, tot bo-op die berge, dit moet groei soos die plante op die Libanon-berg. Daar moet baie mense in die stede wees, so baie soos die gras in die veld.
17Mense moet die koning altyd onthou, hulle moet sy naam onthou so lank soos daar 'n son is. Al die volke moet weet en sê dat dit goed gaan met hulle omdat die koning daar is, en hulle moet bid dat hy gelukkig sal wees.
18Ons prys God, die Here, die God van Israel. Net Hy doen wonderlike dinge.
19Ons prys die Naam van die Here, die Koning. Die hele aarde moet weet Hy is Koning. Amen, ja amen.
20Die gebede van Dawid seun van Isai hou hier op.