Psalms 58
1 Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Moenie verwoes nie.” Van Dawid. 'n Lied.
2 Is dit regtig reg wat julle sê, julle wat oor die mense moet regeer? Is julle regverdig wanneer julle die mense oordeel?
3 Nee, julle dink altyd hoe julle verkeerde dinge kan doen, julle doen slegte dinge aan mense in die land.
4 Mense wat verkeerd doen, mense wat aanhou lieg, doen die verkeerde dinge vandat hulle gebore is.
5 Alles wat hulle sê, is soos 'n slang se gif, soos die gif van 'n giftige slang wat maak of hy niks hoor nie
6 en wat nie wil luister na die mense wat met slange speel nie, die slim mense wat weet hoe om met slange te praat.
7 O God, U moet die mense wat verkeerd doen se tande uit hulle mond uitbreek. Here, hulle is soos leeus met skerp tande, maar U moet hulle tande uitslaan.
8 U moet hulle laat verdwyn soos water wat in die grond insak, U moet hulle pyle stukkend trap soos 'n mens droë gras trap.
9 U moet hulle laat word soos slakke wat smelt en verdwyn terwyl hulle loop, U moet hulle laat word soos 'n kind wat doodgebore is en wat nooit die son gesien het nie.
10 Die Here sal hulle laat verdwyn, vinniger as doringtakke wat brand onder 'n pot, ook die takke wat nog groen is.
11 Die mense wat reg doen, sal baie bly wees wanneer hulle sien hoe die Here die mense straf wat verkeerd doen. Dit sal wees soos wanneer iemand sy voete was in die bloed van sy vyande.
12 Mense sal sê: “Waarlik, dit sal goed gaan met die mens wat reg doen. Daar is 'n God wat die mense op die aarde reg oordeel.”