Psalms 30
1 'n Psalm. 'n Lied toe hulle die tempel gewy het. Van Dawid.
2 Here, ek wil U prys, want U het my gered en my laat uitkom, sodat my vyande nie kan juig oor wat met my gebeur nie.
3 My God die Here, ek het tot U geroep en gevra dat U my moet help, en U het my gesond gemaak.
4 Here, U het my laat uitkom uit die doderyk, ek was naby die dood, maar U het my weer laat lewe.
5 Julle wat in die Here glo, julle moet vir Hom sing, julle moet sy heilige Naam noem en vir Hom dankie sê.
6 Want Hy bly nie lank kwaad nie, Hy is vriendelik so lank soos 'n mens lewe. Ek huil die hele nag, maar wanneer ek opstaan, dan juig ek weer.
7 Toe dit met my goed gegaan het, het ek gesê dit sal altyd so wees.
8 Here, U was goed vir my, U het my sterk laat staan soos 'n berg. Maar toe U my nie meer wil sien nie, het ek bang geword.
9 Here, ek het tot Ú gebid, net tot U, ek het gesoebat dat my Here vir my moet help.
10 Wat sal U kan wen as ek sterf, as ek afgaan na die doderyk? Mense wat dood is, kan nie vir U prys nie, hulle kan nie vertel dat U altyd doen wat U belowe het nie.
11 Here, U moet luister, U moet genadig wees vir my, Here, dit is U wat vir my moet help.
12 Ek het gehuil en getreur, maar U het my laat dans. U het my rouklere weggevat en my laat feesvier.
13 Daarom sal ek sing, ek sal nie stilbly nie, my God die Here, ek sal U altyd prys.