Psalms 144ABA

1Van Dawid. Ek wil die Here prys! Hy is my Rots. Hy leer vir my hande om te veg, Hy leer vir my vingers om oorlog te maak.

2Hy doen altyd wat Hy belowe het, Hy is vir my soos 'n veilige plek in die berge, Hy beskerm my en Hy maak my vry, Hy is vir my soos 'n skild, ek voel veilig by Hom. Hy maak my mense gehoorsaam aan my.

3Here, mense is nie belangrik nie. Hoekom kyk U na hulle? Hoekom dink U aan iemand wat net 'n mens is?

4Mense is soos wind, hulle lewe gaan verby soos 'n skaduwee wat verdwyn.

5Here, U moet die hemel buig en U moet afkom, U moet aan die berge raak, sodat daar rook uit hulle kom.

6U moet die weerlig laat blits en U moet die vyande na al die kante toe jaag, U moet u pyle skiet en U moet hulle laat vlug.

7U moet u hand uitsteek uit die hemel en U moet my wegruk, U moet my red van die baie water, U moet my red van ander volke.

8Hulle wil net een ding doen, en dit is om te lieg en te bedrieg.

9O God, ek wil vir U 'n nuwe lied sing, ek wil vir U musiek maak met die harp.

10Dit is U wat konings help om oorloë te wen, dit is U wat vir Dawid weggeruk het voor 'n wrede vyand.

11U moet my ook wegruk, U moet my red van die ander volke. Hulle wil net een ding doen, en dit is om te lieg en te bedrieg.

12Ons bid dat ons seuns sal wees soos plante wat groei en groot word terwyl hulle nog jonk is. Ons bid dat ons dogters sal wees soos die mooi pilare op die hoeke van die paleis.

13Ons bid dat ons stoorkamers vol sal wees, dat daar baie soorte kos sal wees. Ons bid dat ons skape en ons bokke op ons veld duisende, tienduisende lammers sal hê,

14en dat ons beeste baie kalwers sal hê. Ons bid dat vyande nie in ons stad sal kom en die mense sal wegvat nie, ons bid dat ons nie op die oop stukke grond sal moet staan en huil nie.

15Dit gaan goed met 'n volk wanneer dit so met hulle gaan. Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Psalms 144.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.