1Van Dawid. Here, ek wil vir U dankie sê met my hele hart, ek wil vir U sing sodat al die gode dit kan hoor.
2Ek wil buig na u gewyde tempel en ek wil u Naam prys omdat U doen wat U belowe het en omdat U dieselfde bly.
3Die dag toe ek geroep het en gevra het dat U my moet help, toe het U my geantwoord, U het my sterk gemaak.
4Al die konings van die aarde sal vir U dankie sê, want hulle het gehoor wat U gesê het.
5Hulle sal sing oor die dinge wat die Here gedoen het, want die Here is 'n groot Koning.
6Die Here is hoog in die hemel maar Hy sien wie die nederige mense is en Hy weet ook baie goed wie die hoogmoedige mense is.
7Wanneer dit sleg gaan met my, dan laat U my aanhou lewe. U steek u hand uit en U keer my vyande wat kwaad is vir my, U red my met u eie hand.
8Die Here doen alles vir my. Here, U doen altyd wat U belowe het. U het die mense met u eie hande gemaak, U moenie vir hulle alleen los nie.