Proverbs 31
1 Hier is die dinge wat koning Lemuel van die land Massa se ma vir hom geleer het.
2 My kind, my eie kind, ek het 'n gelofte oor jou gemaak.
3 Jy moenie al jou krag, jou lewe, gee vir vroue nie, vroue verwoes konings.
4 Lemuel, konings moenie wyn drink nie, mense wat regeer, moenie dronk word nie.
5 Want wanneer hulle drink, dan kan hulle miskien die wette vergeet, en dan doen hulle nie reg aan al die mense wat hulleself nie kan beskerm nie.
6 Jy moet drank gee vir die mense wat besig is om te sterf, jy moet wyn gee vir die mense wat swaarkry.
7 Wanneer hulle drink, dan sal hulle miskien vergeet dat hulle arm is en dan sal hulle nie meer daaraan dink dat hulle swaarkry nie.
8 Wanneer mense nie self kan praat nie, dan moet jy sê wat hulle wil sê, jy moet praat en reg doen aan almal met wie dit sleg gaan.
9 Jy moet praat, jy moet reg oordeel, jy moet reg doen aan die mense wat hulleself nie kan beskerm nie, die mense wat niks het nie.
10 Wanneer iemand 'n goeie vrou kry, dan het hy 'n vrou wat meer kosbaar is as koraal.
11 Haar man weet dat sy sal doen wat sy belowe het, hy weet dat sy goed altyd meer sal word.
12 Sy laat dit goed gaan met hom, nie sleg nie, haar hele lewe lank.
13 Sy maak wol en vlas bymekaar en sy geniet dit om met haar hande te werk.
14 Sy is soos die skepe van 'n handelaar, sy bring van ver plekke die kos wat sy nodig het.
15 Sy staan op wanneer dit nog donker is, sy gee vir haar huisgesin kos en sy gee vir haar bediendes werk.
16 Sy dink goed oor 'n stuk grond en sy koop dit, sy neem van haar eie geld en sy plant daar wingerdstokke.
17 Sy is sterk, sy kan aanhou werk.
18 Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag.
19 Sy steek haar hande uit en sy werk by die spinwiel en die weefstoel.
20 Sy gee graag vir mense wat hulleself nie kan beskerm nie, vir mense wat niks het nie.
21 Wanneer dit sneeu, dan is sy nie bekommerd oor haar huisgesin nie, want hulle dra almal warm klere.
22 Sy maak vir haar komberse, sy dra klere van linne en pers wol.
23 Almal ken haar man, hy sit saam met die leiers van die land by die poort.
24 Sy maak klere en sy verkoop dit, sy gee vir die handelaars nekdoeke om te verkoop.
25 Sy is 'n sterk en 'n netjiese vrou, sy is nie bekommerd oor wat later sal gebeur nie.
26 Wanneer sy praat, dan praat sy met wysheid, sy leer vir haar mense om vriendelik te wees.
27 Sy kyk dat alles reg gaan in haar huis, sy is nie lui nie.
28 Haar kinders staan regop en hulle prys haar, haar man sê dat sy 'n goeie vrou is. Hy sê:
29 “Baie vroue doen goed, maar jy doen beter as hulle almal.”
30 'n Vrou bly nie altyd jonk en mooi nie, 'n vrou wat die Here dien en Hom respekteer, dit is vir háár wat ons wil prys.
31 Sy moet self ook kry van alles waarvoor sy werk, almal by die poorte moet haar prys.