Judges 5
1 Daardie dag het Debora en Barak seun van Abinoam hierdie lied gesing:
2 “Manne in die land Israel het gereedgemaak vir die oorlog. Niemand het gesê dat hulle moet kom nie, hulle het self gekom. Prys die Here.
3 Konings en almal wat belangrik is, julle moet luister. Ek wil vir die Here sing, ek wil musiek maak vir die Here, die God van Israel.
4 Here, die aarde het geskud, en daar het water gedrup uit die wolke in die lug toe U uit die land Seïr gekom het, toe U gekom het uit die veld van Edom.
5 Ja, die berge het gebewe voor die Here wat van Sinai-berg kom, die berge het gebewe voor die God van Israel.
6 “In die tyd toe Samgar seun van Anat gelewe het, in die tyd van Jael, was dit te gevaarlik om op die paaie te loop, mense moes deur die veld loop.
7 Niemand in die land Israel kon buite die stede woon nie totdat ek, Debora, gekom het om 'n ma te wees vir Israel.
8 Die volk het ander gode gekies, en die oorlog het begin in die stede. Maar nie een van Israel se duisende soldate het 'n skild en 'n spies gevat om te veg nie.
9 Ek is bly oor die leiers van Israel en die mense wat self besluit het om te kom. Prys die Here!
10 Julle moet hard praat en vir die mense daarvan vertel, elkeen van julle wat op 'n mooi saal sit op 'n bruin donkie, en julle wat op die paaie loop.
11 Die mense wat water skep vir die diere, praat daaroor dat die Here die vyande oorwin het en dat die mense buite die stede nou weer kan lewe. Die volk van die Here het na die poorte gekom
12 en gesê: ‘Debora, jy moet wakker word, jy moet wakker word, wakker word en sing! Barak, seun van Abinoam, jy moet gereedmaak, jy moet die vyande kom vang.’
13 “Toe het die mense van my volk, die mense wat nog gelewe het, saam met hulle leiers gekom. Die volk van die Here het na my toe gekom en hulle was almal dapper soldate.
14 Uit Efraim het mense afgekom na die vallei, en saam met hulle was die mense van Benjamin. Leiers het gekom uit Makir en uit Sebulon.
15 Daar was belangrike mense van die stam Issaskar by Debora, ja, hulle was saam met Barak in die vallei. Maar die Ruben-mense het net gesit en dink by die plekke waar hulle vir hulle skape water gee.
16 Hoekom het julle daar by die skaapkrale gebly en aangehou luister na die fluite van die skaapwagters? Ja, die Ruben-mense het net gesit en dink.
17 Die mense van Gilead het anderkant die Jordaan-rivier gebly en die mense van Dan, hoekom het hulle by die skepe van ander mense gebly? Die Aser-mense het ook daar langs die see bly sit en nie weggegaan van die hawe nie.
18 Maar die mense van Sebulon en Naftali was nie bang nie. Hulle het kom wagstaan op die berge van die land.
19 Konings het kom oorlog maak, die konings van Kanaän het oorlog gemaak in Taänak by die Megiddo-water, maar hulle het nie die Israeliete oorwin en hulle silwer gevat nie.
20 Die sterre het van bo in die lug oorlog gemaak, hulle het op hulle pad gebly en oorlog gemaak teen Sisera.
21 Die Kison-rivier het Sisera se mense weggespoel, die Kison-rivier wat baie oud is. Maar ek kon verder gaan, ek was sterk.
22 Die perdepote het geraas op die grond, Sisera se soldate het gevlug op hulle perde.
23 “Die Engel van die Here het gesê: ‘Julle moet die stad Meros vervloek, julle moet sy mense vervloek en nie jammer wees vir hulle nie. Want hulle het nie gekom met hulle soldate om die Here te help nie.’
24 Maar met Jael sal dit beter gaan as met al die ander vroue, Jael vrou van Geber die Keniet, dit sal met haar beter gaan as met die ander vroue in die tente.
25 Sisera het water gevra, maar sy het vir hom melk gegee, sy het dikmelk gebring in 'n pragtige bak.
26 Sy het 'n tentpen gevat met die een hand en met die ander hand 'n hamer, en sy het vir Sisera doodgemaak. Sy het die pen deur sy kop geslaan tot in die grond.
27 Hy het tussen haar voete geval en daar gelê, hy het geval en daar dood gelê.
28 “Sisera se ma het by die venster uitgekyk, sy het deur die venster se tralies gekyk, sy het gehuil en gevra: ‘Hoekom kom sy oorlogkar nie? Hoekom hoor ons hom nie kom nie?’
29 Die slimste van die vroue wat haar help, het geantwoord. Sy en Sisera se ma het saam gesê:
30 ‘Ek dink hulle deel die goed uit wat hulle gevat het: Elke man kry een of twee meisies, Sisera kry mooi bont klere, en óns kry nekdoeke met baie kleure.’
31 “Here, ek bid dat dit met al u vyande sal gaan soos met Sisera, en dat almal wat lief is vir U, sal wees soos die son wat helder skyn.” Daar was 40 jaar lank vrede in die land.