Jeremiah 51
1 Die Here sê: “Kyk, Ek laat 'n wind waai teen Babel en teen die mense van Galdeër-land. Die wind sal alles verwoes.
2 Ek stuur vyande wat die mense van Babel sal wegvat soos die wind kaf wegwaai. Hulle sal die land leegmaak, want hulle sal van al die kante kom op die dag wanneer die oorlog begin.
3 Die boogskutters van Babel moenie tyd kry om hulle pyle te skiet en hulle harnasse aan te trek nie. Die vyande moenie jammer wees vir die jongmanne van Babel nie, hulle moet al die soldate doodmaak.
4 Hulle moet mense doodmaak in Galdeër-land, die dooie mense moet in die strate lê,
5 want Israel en Juda is nie soos weduwees nie, weduwees wat niemand het om hulle te beskerm nie. Israel en Juda het 'n God. Hy is die Here wat oor alles regeer. Die mense van Galdeër-land het baie verkeerde dinge gedoen, maar die Heilige God van Israel is by Israel en Juda.
6 Julle moet vlug uit Babel, elkeen moet sy eie lewe red. Julle moenie daar bly wanneer die Here hulle straf oor hulle sonde nie, want dit is nou die tyd dat die Here hulle wil straf oor wat hulle gedoen het.
7 Babel was 'n goue beker in die hand van die Here en die wyn in die beker het al die mense op die aarde dronk laat word. Die mense het van die wyn gedrink, en hulle het mal geword.
8 En toe het Babel skielik geval en gebreek. Julle moet huil oor die mense van die stad, julle moet balsem bring vir die pyn, miskien word hulle gesond.”
9 Hulle sê: “Ons het vir die mense van Babel medisyne gegee, maar hulle het nie gesond geword nie.” Julle moet uitgaan uit die stad, elkeen moet na sy land gaan, want God sal Babel oordeel, Babel se straf is groot, dit raak tot aan die hemel, dit is so hoog soos die wolke.
10 Die Here het ons gered. Ons moet in Sion gaan vertel wat ons God die Here gedoen het.
11 Julle moet die pyle skerpmaak en genoeg pyle saamneem. Die Here het die konings van Medië wakker gemaak, want Hy wil Babel verwoes, Hy wil hulle straf omdat hulle sy tempel afgebreek het.
12 Julle moet die vlag in die lug ophou by die muur van Babel, julle moet wagte rondom die stad laat staan, julle moet soldate laat wegkruip rondom die stad, want die Here het besluit en Hy sál doen wat Hy gesê het met die mense van Babel.
13 Babel, jy het by baie water gewoon en jy was ryk, maar jou einde het gekom, die vyande sal jou verwoes.
14 Die Here wat oor alles regeer, het besluit, en Hy is self die getuie. Hy sê: “Ek sal baie soldate in jou laat kom, so baie soos sprinkane, en hulle sal skree en jou oorwin.”
15 Die Here het die aarde en die hemel gemaak. Hy het dit gedoen met sy krag en sy wysheid.
16 Wanneer Hy praat, dan raas die water in die hemel. Hy bring die wolke van ver oor die aarde, Hy laat die weerlig slaan en die wind waai.
17 Maar mense wat beelde maak en wat hulle dien, is dom, daardie mense weet niks. Die beelde kan niks vir hulle doen nie, daar is nie lewe in die beelde nie.
18 Hulle is soos wind wat wegraak, mense lag vir hulle. Wanneer die Here hulle straf, dan sal hulle verdwyn.
19 Maar die God van Jakob is nie soos die beelde nie, want Hy het alles gemaak. Die Israeliete is sy eie volk. Sy Naam is die Here wat oor alles regeer.
20 Die Here sê: “Babel, jy was my hamer, my wapen, Ek het teen volke oorlog gemaak met jou. Ek het volke stukkend geslaan met jou en Ek het lande verwoes,
21 Ek het perde stukkend geslaan met jou en ook die soldate wat op die perde ry, Ek het oorlogkarre stukkend geslaan met jou en ook die soldate op die waens.
22 Ek het mans en vroue stukkend geslaan met jou, ook oumense en kinders, jongmans en meisies.
23 Ek het skaapwagters en skape stukkend geslaan met jou, ook boere en trekdiere, Ek het goewerneurs en regeerders stukkend geslaan met jou.
24 Maar Ek sal Babel en al die mense van Galdeër-land straf oor al die slegte dinge wat hulle in Sion gedoen het, julle het dit gesien.” Dit sê die Here.
25 Die Here sê: “Babel, jy was die berg wat die hele aarde verwoes het, maar hier is Ek, en Ek is téén jou. Ek steek my hand uit teen jou en Ek stoot jou van die rotse af en Ek maak jou soos 'n berg wat verbrand is.
26 Mense sal nie by jou klippe kom vat om weer 'n muur te bou nie, daar sal nooit weer mense in jou woon nie.” Dit sê die Here.
27 Julle moet 'n vlag in die lug ophou oor die aarde, julle moet die ramshoring blaas vir die volke. Julle moet vir die ander volke sê hulle moet gereedmaak om oorlog te maak teen Babel, julle moet die mense van die lande Ararat, Minni en Askenas roep. Julle moet 'n offisier kies en aanstel om al die planne vir die oorlog te maak. Julle moet perde bymekaarmaak, so baie soos sprinkane.
28 Julle moet vir hierdie mense sê hulle moet gereedmaak om oorlog te maak teen Babel: die konings van die Mediërs, die goewerneurs, al die regeerders, en al die mense in die lande waaroor hulle regeer.
29 Die land Babel skud en bewe, want die dinge wat die Here besluit het, sal gebeur. Hy het besluit dat Babel 'n leë plek sal word, 'n plek waar nie mense woon nie.
30 Die soldate van Babel het opgehou veg, hulle bly agter die mure, hulle het swak geword, hulle is soos vroue. Die vyande het die huise van die stad aan die brand gesteek en hulle het die poorte oopgebreek.
31 Mense hardloop almal, al die boodskappers bring vir die koning die nuus dat die vyande die stad oorwin het en heeltemal gevat het.
32 Hulle het die vyande by die driwwe oorwin en hulle het die riete aan die brand gesteek. Die soldate van Babel is te bang om iets te doen.
33 Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Ja, Babel is soos 'n dorsvloer, die mense is gereed om die koring te trap. Oor 'n kort tydjie sal die vyande so op hulle trap.”
34 Koning Nebukadnesar was soos 'n monster. Hy het ons ingesluk en opgevreet, daar het niks van ons oorgebly nie. Hy het ons ingesluk, hy het sy maag vol geëet, hy het ons leeggedrink en weggestoot.
35 Die mense van Sion sê: “Die Here moet die mense van Babel straf oor die dinge wat hulle aan ons gedoen het. Hulle het ons seergemaak, hulle het ons bloed laat vloei.”
36 Daarom sê die Here: “Kyk, Ek sal die mense straf oor wie julle kla, Ek sal Babel se baie water laat droog word, ook sy fontein sal droog word.
37 Babel sal 'n hoop klippe word, 'n plek waar jakkalse bly. Mense sal bang word en fluit oor Babel, daar sal niemand woon nie.
38 Die mense van Babel sal brul soos leeus,
39 en wanneer hulle baie honger is, dan sal Ek hulle laat eet en drink. Ek sal hulle dronk maak sodat hulle vrolik word, en hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie.” Dit sê die Here.
40 Die Here sê: “Ek sal hulle soos ramme na die slagplek bring, soos skaap-ramme en bok-ramme.”
41 Almal op die aarde het gepraat oor Babel, maar vyande het die stad oorwin en gevat. Al die volke het geskrik oor wat met Babel gebeur het.
42 Die water het oor Babel gestroom, die branders het geraas en dit het bo-oor die stad gevloei.
43 Die vyande het die stede van Babel verwoes, die land is 'n droë woestyn, daar woon niemand nie, en nie een mens gaan daar verby nie.
44 Ek sal vir Bel straf in Babel, Ek sal alles wat hy ingesluk het, uit sy mond ruk. Volke sal nie meer na Babel gaan nie. Babel se muur sal omval.
45 My volk, julle moet uitkom. Elkeen moet sy eie lewe red, want die Here is kwaad en Hy wil die mense in Babel straf.
46 Hy sal dit doen, want Hy wil hê julle moenie bang wees elke maal wanneer julle hoor dat die regeerders oorlog maak teen mekaar nie.
47 Dit moet julle weet, die tyd sal kom wanneer Ek die gode van Babel sal straf. Almal in die land sal dan besef dat hulle niks beteken nie wanneer die dooie mense oral in die land lê.
48 Almal in die hemel en op die aarde sal sing oor Babel, want die mense wat die stad sal verwoes, kom uit die noorde.
49 Die vyande moet Babel verwoes, want Babel het baie mense van Israel laat sterf, ook mense van die hele aarde.
50 Julle wat vry weggekom het en nie gesterf het nie, julle moet gaan, julle moenie wag nie. Julle is ver van hier in 'n ander land, maar julle moet dink aan die Here, julle moet Jerusalem onthou.
51 Ons vyande het ons verneder, hulle het ons gespot, ons is skaam, want vreemde mense het ingekom in die gewyde plekke van die tempel.
52 Die Here sê: “Dit moet julle weet, die tyd sal kom wanneer Ek die gode van Babel sal straf en in die hele land sal die mense wat seergekry het in die oorlog, huil en kla.
53 Babel kan probeer opklim tot in die hemel, hulle kan probeer om baie sterk te wees, maar Ek sal mense laat kom wat die stad sal verwoes.”
54 Die mense hoor hoe skree die mense van Babel, en hulle vra dat iemand hulle moet help, want dit gaan baie sleg in Galdeër-land.
55 Die Here is besig om Babel te verwoes, Hy wil hulle groot geraas laat ophou. Die vyande kom soos branders teen die stad, branders wat raas en dreun.
56 Ja, daar kom vyande oor Babel, hulle verwoes alles. Hulle vang die soldate van Babel en breek hulle pyle en boë, want die Here is 'n God wat straf, en Hy sal straf, dit is seker.
57 Die Koning praat, sy Naam is die Here wat oor alles regeer. Hy sê: “Ek sal die mense van Babel dronk maak, hulle amptenare, hulle wyse mense, hulle goewerneurs, hulle regeerders en hulle soldate, en hulle sal vir altyd aan die slaap raak.”
58 Die Here wat oor alles regeer, sê: “Die vyande sal die breë muur van Babel heeltemal afbreek en hulle sal sy poorte verbrand. Baie mense het daar baie hard gewerk, maar dit het niks gehelp nie, alles wat hulle gebou het, sal verbrand.”
59 Seraja seun van Nerija seun van Magseja het saam met koning Sedekia van Juda na Babel gegaan. Dit was in die vierde jaar nadat Sedekia koning geword het. Seraja moes sorg dat die koning slaapplek het langs die pad. Die profeet Jeremia het vir Seraja gesê wat hy moet doen wanneer hy in Babel kom.
60 Jeremia het al die slegte dinge wat met Babel sal gebeur, in 'n boek geskryf, alles wat hier oor Babel geskryf is.
61 Jeremia het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, dan moet jy na die stad kyk en jy moet al hierdie woorde lees,
62 en dan moet jy sê: ‘Here, U het gesê U wil hierdie plek verwoes sodat niemand hier sal woon nie, nie 'n mens of 'n dier nie. U het ook gesê dat die stad altyd leeg sal wees.’
63 “En wanneer jy hierdie boek klaar gelees het, dan moet jy 'n klip vasmaak aan die boek en jy moet dit in die Eufraat-rivier gooi.
64 Jy moet sê: ‘So sal Babel wegsink en nie weer opkom nie, omdat die Here dit sleg sal laat gaan met die stad. Mense het daar baie hard gewerk, maar dit het niks gehelp nie.’ ” Dit is die laaste woorde wat Jeremia gesê het.