Jeremiah 2
1 Die Here het met my gepraat en vir my gesê:
2 “Gaan praat met die mense van Jerusalem. Hulle moet goed hoor wat jy sê. Jy moet vir hulle sê Ek sê: “Jerusalem, jy was vir My soos 'n bruid. So onthou Ek jou. Jy was lief vir My toe jy jonk was, toe jy my bruid was. Jy het saam met My geloop in die woestyn, die plek waar mense nie koring saai nie.
3 Israel is net Myne, hulle is soos die eerste koring-are, en Ek sal almal swaar straf wat van hierdie koring-are eet.” Dit het die Here gesê.
4 Nageslag van Jakob, al die families van Israel, julle moet luister na wat die Here sê.
5 Die Here vra: “Wat het Ek verkeerd gedoen teen julle voorvaders? Hoekom het hulle weggegaan van My? Hoekom het hulle saam met afgode geloop, afgode wat niks beteken nie? So het julle voorvaders self niks geword.
6 “Hulle het nie gevra: “ ‘Waar is die Here wat vir ons uit Egipte gebring het, die Here wat ons deur die woestyn gebring het?’ nie. Dit is 'n droë plek waar dit baie gevaarlik is, 'n plek waar daar nie water is nie en waar dit donker is, 'n plek waar niemand kom nie en waar niemand woon nie.
7 Ek het julle gebring in 'n land vol vrugtebome waar julle lekker kon eet van alles, maar toe het julle my land onrein gemaak. Julle het die land wat aan My behoort, vuil gemaak met julle sonde.
8 Die priesters moes vir die mense sê wat Ek wil hê, maar hulle het nie gevra waar Ek is nie, hulle het My nie geken nie. Die mense wat oor my volk moes regeer, was téén My. Die profete het boodskappe van Baäl gebring, en hulle het afgode gedien wat niks beteken nie.
9 Daarom beskuldig Ek julle weer, julle en julle nageslag.
10 Ek sê vir julle: Gaan kyk tot in die verste lande, in die Kittiër-eilande en in Kedar, gaan vra of so iets al daar gebeur het.
11 Het 'n volk sy gode gelos en ander gode gekies, goed wat nie regtig gode is nie? Nee. Maar my volk het My, die ware God, gelos en afgode gekies wat niks beteken nie.
12 Hieroor moet almal in die hemel so groot skrik dat hulle hare regop staan, hulle moet bang wees en bewe.
13 Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen. Ek wou vir hulle die water gee wat hulle sal laat lewe, maar hulle het My nie meer gedien nie en hulle het vir hulleself watergate uitgekap, gate wat nie water kon hou nie.
14 Is die mense van Israel slawe? Is hulle slawe se kinders? Hoekom het mense hulle weggevat uit hulle stad?
15 Die vyande van die Israeliete was soos leeus wat brul. Hulle het die mense weggevat uit die land, hulle het die stede verwoes, daar het niemand oorgebly nie.
16 Mense van Juda, die soldate uit die stede Nof en Tagpanges in Egipte sal ook alles wegvat uit julle land.
17 Dit sal gebeur, want julle het verkeerd gedoen. Julle God die Here het julle gelei op julle pad, maar julle het Hom gelos.
18 Julle wil nou in Egipte gaan water drink uit die Sigor-rivier of in Assirië uit die Eufraat-rivier, julle wil vra dat daardie mense julle moet help, maar hulle sal julle nie help nie.
19 Julle het verkeerd gedoen, julle was opstandig teen My, daarom sal Ek julle straf. Julle sal weet en sien hoe sleg en bitter dit is nadat julle My, julle God die Here, gelos het en My nie meer respekteer en dien nie.” Dit het die Here gesê, die Here wat oor alles regeer.
20 Hy sê: “Ja, julle was nog altyd soos beeste wat hulle jukke breek en hulle stroppe stukkend ruk en sê: ‘Ons wil nie vir ons eienaar werk nie.’ Julle het afgode gedien op elke hoë heuwel en onder elke groen boom.
21 Ek het julle self geplant, julle was goeie wingerdstokke. Maar kyk nou hoe het julle verander! Julle het wilde wingerdstokke geword wat slegte druiwe dra.
22 Julle kan julle was met die sterkste seep, met baie seep, maar Ek sal nog altyd sien dat julle sonde julle vuil gemaak het.” Dit sê die Here, Hy wat Here is.
23 “Julle sê julle het julleself nie onrein gemaak nie, julle sê julle het nie met die Baäls saamgegaan nie. Maar kyk wat het julle gedoen in die Hinnom-vallei. Julle het gemaak soos 'n jong kameel-koei wat by 'n bul wil kom. Sy loop heen en weer,
24 sy hardloop in die woestyn in en ruik waar 'n bul is, niemand kan haar keer nie. 'n Bul wat haar soek, kry haar maklik wanneer dit vir haar die regte tyd is om by 'n bul te kom.
25 Julle loop ver om die afgode te soek, julle loop totdat julle skoene stukkend is. Julle word dors op die pad na hulle toe, maar julle sê: ‘Dit maak nie saak nie, ons is lief vir die gode van ander volke en ons sal saam met hulle gaan.’
26 Wanneer 'n dief gevang word, dan weet hy nie wat om te doen nie. So sal dit ook gaan met die volk Israel en met hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters en hulle profete.
27 Hulle is mense wat vir 'n stuk hout of vir 'n klip sê: ‘Jy is my pa, ek is jou kind.’ Ja, hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesig nie. Maar wanneer dit sleg gaan met hulle, dan sê hulle: ‘Kom red ons!’
28 Maar waar is julle gode wat julle vir julle gemaak het? Hulle moet kom en julle red wanneer dit sleg gaan met julle, as hulle dit kan doen. Want, Juda, julle het net so baie gode gehad soos stede.
29 Hoekom sê julle dit is my skuld dat dit sleg gaan met julle? Dit is julle almal wat opstandig was teen My.” Dit het die Here gesê.
30 Hy sê: “Ek het julle kinders gestraf, maar hulle het nie geluister nie. Julle het julle profete doodgemaak soos leeus diere doodmaak.”
31 Julle wat nou lewe, julle moet hoor wat sê die Here: “Was Ek vir die Israeliete soos 'n woestyn of soos 'n donker land? Hoekom sê my volk: ‘Ons het weggegaan van U, ons wil nie terugkom na U toe nie?’
32 'n Jongmeisie vergeet nie haar juwele nie, 'n bruid vergeet nie haar trouklere nie. Maar my volk het My gou vergeet.
33 Julle weet baie goed hoe om ontrou te wees, ook slegte vroue kan by julle leer.
34 Julle het mense laat doodmaak wat nie verkeerd gedoen het nie. Hulle was arm mense wat nie gesteel het nie. Julle het dit alles gedoen,
35 maar julle sê: ‘Ons het nie verkeerd gedoen nie, die Here is nie meer kwaad vir ons nie.’ Ek wil julle nou straf omdat julle gesê het julle het nie sonde gedoen nie.
36 Julle vra vir die een volk om julle te help, en dan vir die ander volk, maar die Assiriërs het julle nie gehelp nie en die Egiptenaars sal julle ook nie help nie.
37 Julle het mense na Egipte gestuur, maar hulle sal moedeloos terugkom uit Egipte, want vir die Here is daardie volke nie belangrik nie, hulle sal nie help dat dit met julle goed gaan nie.”