Jeremiah 17
1 Die Here sê: “Niemand kan die sonde van die mense van Juda uitvee nie. Dit is geskryf op hulle harde hart en op die horings van hulle altare soos 'n mens letters op klip uitkrap met 'n ysterpen wat 'n diamant-punt het.
2 Dit moet hulle laat dink aan hulle seuns, aan hulle altare en aan hulle gewyde pale by die groen bome en op die hoë heuwels, op die berge van die land.
3 Ek sal alles wat julle besit, vir julle vyande gee om te vat, al julle mooi goed, want julle het offer-plekke oral in julle land gebou en julle het sonde gedoen.
4 Julle sal moet weggaan uit die land wat Ek vir julle gegee het, en Ek sal julle vir julle vyande laat werk in 'n land wat julle nie geken het nie, want Ek is kwaad vir julle. Dit is soos 'n vuur wat altyd sal aanhou brand.”
5 Die Here sê: “Ek vervloek die man wat weggaan van My, die man wat dink dat 'n mens wat kan sterf, hom kan help en hom sterk kan maak.
6 So iemand sal word soos 'n bossie in 'n plek waar dit nie reën nie, 'n bossie wat altyd in die warm son staan en in 'n klip-woestyn groei, in sout-grond waar niks lewe nie.”
7 Die Here sal die man seën wat glo dat die Here hom sal help en hom sal beskerm.
8 So iemand sal wees soos 'n boom wat naby die water staan. Sy wortels kom tot by die waterstroom, en hy voel nie wanneer dit warm word nie. Sy blare is altyd groen, en wanneer dit nie reën nie, dan is hy nie bekommerd nie, hy hou aan om vrugte te dra.
9 Mense bedrieg hulleself en ander mense, hulle kan nie ophou om dit te doen nie, hulle verstaan hulleself nie.
10 Maar Ek, die Here, sien wat mense dink en wat hulle wil doen, en Ek straf hulle oor wat hulle doen.
11 'n Mens wat ryk word omdat hy ander mense bedrieg, is soos 'n fisant wat op ander fisante se eiers broei. So 'n mens sal alles verloor wat hy het, hy sal dit verloor voordat hy oud is, en hy sal sterf soos 'n dwaas.
12 Die plek waar ons tempel staan, was nog altyd hoog, die Here is daar, soos 'n koning wat op sy troon sit.
13 Here, U is God, Israel hoop op U. Dit sal sleg gaan met die mense wat weggaan van U. U skryf hulle name op, hulle sal sterf, want hulle het weggegaan van U wat lewe gee. U is soos 'n fontein wat altyd water het en wat mense laat lewe.
14 Here, wanneer U my gesond maak, dan sal ek gesond wees, wanneer U my red, dan sal dit goed gaan met my. Ja, Ek sal U prys.
15 U hoor wat die mense sê. Hulle vra vir my: “As die Here jou gestuur het om te praat, wanneer sal die dinge gebeur wat jy sê?”
16 Here, ek het aangehou om 'n herder te wees vir u volk en ek het nie gewens dat die dag gou moet kom nie, die dag wanneer U hulle sal straf. U weet wat ek gesê het, U het dit gehoor.
17 U moenie my laat bang word vir U nie, want ek wil na U toe kom en veilig wees by U wanneer U begin om die mense te straf.
18 U moet dit sleg laat gaan met my vyande, U moenie dit met mý sleg laat gaan nie. U moet húlle bang laat word, U moenie my bang laat word nie. U moet nou begin om hulle te straf, U moet hulle baie swaar laat kry.
19 Die Here het vir my, Jeremia, gesê: “Jy moet in die Volkspoort gaan staan waar die konings van Juda ingaan en uitgaan. Jy moet ook in al die ander poorte van Jerusalem gaan staan,
20 en jy moet vir die mense sê: Konings van Juda en al die mense van Juda, en almal wat in Jerusalem woon en wat deur hierdie poorte gaan, julle moet luister na wat die Here sê.
21 Die Here sê: Julle moet oppas. As julle wil aanhou lewe, dan moet julle nie op die Sabbatdag iets dra en dit deur die poorte van Jerusalem bring nie.
22 Julle moenie op die Sabbatdag iets uit julle huise bring of enige werk doen nie. Die Sabbatdag moet vir julle 'n gewyde dag wees, soos Ek vir julle voorvaders gesê het.
23 Julle voorvaders was ongehoorsaam, hulle het nie geluister nie, hulle was hardkoppig en hulle het nie gedoen wat Ek vir hulle gesê het nie.
24 Julle moet nou goed luister. Julle moenie op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van hierdie stad nie en julle moenie op die Sabbatdag werk nie. Dit moet 'n gewyde dag vir julle wees.
25 As julle gehoorsaam is, dan sal daar deur hierdie poorte konings en prinse kom wat sal regeer op die troon van Dawid. Hulle sal op oorlogkarre en perde ry, hulle en hulle amptenare en die mense van Juda en die mense wat in Jerusalem woon. Daar sal altyd mense in hierdie stad woon.
26 Hulle sal kom uit die stede van Juda, uit die plekke naby Jerusalem, uit die land Benjamin, uit die Laeveld, uit die Bergland en uit die Suid-land. Hulle sal offers na die tempel bring: brand-offers en koring-offers en wierook-offers, en hulle sal sing en vir die Here dankie sê.
27 Maar as hulle nie gehoorsaam is aan My nie en as hulle op die Sabbatdag iets dra deur die poorte van Jerusalem, dan sal Ek die stad aan die brand steek. Die mooi huise van Jerusalem sal verbrand, en die vuur sal aanhou brand.”