Jeremiah 15
1 Die Here het vir my gesê: “As Moses en Samuel self vir My kom soebat, dan sal Ek nog nie tevrede voel met hierdie volk nie. Stuur die volk weg, Ek wil hulle nie sien nie.
2 En wanneer hulle vir jou vra: ‘Waarnatoe moet ons gaan?’ dan moet jy vir hulle sê: “ ‘Party van julle sal sterf van pes, die vyande sal party van julle doodmaak, party van julle sal sterf omdat daar nie kos is om te eet nie, en die vyande sal party van julle vang en wegvat.
3 “ ‘Ek sal julle straf op vier maniere: Die vyande sal party van julle doodmaak met swaarde, die honde sal julle dooie liggame wegsleep, die voëls sal julle vleis eet, die wilde diere sal julle opvreet.
4 Al die volke van die aarde sal skrik wanneer hulle sien wat met julle gebeur. Ek sal dit doen oor wat Manasse, seun van koning Hiskia van Juda, gedoen het.
5 “ ‘Mense van Jerusalem, niemand sal jammer wees vir julle nie, niemand sal bekommerd wees oor julle nie, niemand sal afgaan van sy pad en kom vra hoe dit met julle gaan nie.
6 Julle het My gelos en weggegaan. Daarom het Ek my hand uitgesteek en julle plat geslaan, Ek wil nie meer jammer wees vir julle nie.
7 Ek het my volk soos kaf laat wegwaai van die dorsvloere by die poorte van die stede. Ek het my volk se kinders weggevat en hulle laat sterf. Maar my volk het nie hulle lewe verander nie.
8 Ek het hulle weduwees meer gemaak as die sand van die see, Ek het in die middel van die dag mense laat kom wat die ma’s van jongmanne aangeval het. Hulle het skielik geskrik en bang geword.
9 Ma’s wat sewe kinders gehad het, het bleek geword en kon nie asem kry nie. Hulle son het ondergegaan toe dit nog dag was, hulle het gesterf voordat hulle oud was. Hulle het al hulle kinders verloor en hulle het nie geweet wat om te doen nie. En Ek sal vyande laat kom om almal dood te maak wat nog lewe.’ ”
10 Ek, Jeremia, het gesê: “Ma, dit gaan sleg met my. Ek, jou kind, moet al die mense in die land beskuldig en vir hulle sê hulle het verkeerd gedoen. Ek het vir niemand geld geleen nie, en ek het by niemand geld geleen nie, maar almal wil hê ek moet sterf.”
11 Die Here het vir my gesê: “Dit is waar, maar Ek het jou hardkoppig gemaak, en dit was goed vir jou. Dit is waar, maar Ek het jou beskerm teen jou vyande toe dit sleg gegaan het met jou en toe jy swaargekry het.”
12 Die Here het vir die mense van Juda gesê: “Julle is soos yster, maar die vyande uit die noorde is soos yster en brons, julle kan hulle nie breek nie.
13 Julle almal in julle hele land het sonde gedoen. Daarom gee Ek julle baie en duur goed verniet weg, die vyande kan dit vat.
14 Julle vyande sal julle wegvat na 'n land wat julle nie ken nie. Ek sal dit laat gebeur, want Ek is kwaad vir julle en Ek wil julle straf. Dit sal wees soos 'n vuur wat brand.”
15 Ek, Jeremia, het vir die Here gesê: “U weet hoe die mense my verneder omdat ek aan U behoort. Dink aan my en beskerm my en straf die mense wat my wil vang en doodmaak. Moenie aanhou kwaad wees vir my en my laat sterf nie.
16 Toe U met my gepraat het, was u woorde vir my soos kos wat ek kon eet. Ek was bly, want Here, God wat oor alles regeer, U het gesê ek behoort aan U.
17 Maar ek kon nie saam met ander mense sit en gesels en lag en dit geniet nie, ek het alleen gesit omdat ek aan U behoort. U was kwaad en U het my ook kwaad laat word.
18 Hoekom moet ek aanhou swaarkry en seerkry? Hoekom verander dit nie? Dit help my nie dat ek aan U behoort nie, U is soos 'n rivier waar ek water wil drink, maar as ek daar kom, dan is dit droog.”
19 Die Here het toe vir my gesê: “As jy ophou om so te praat, dan kan jy terugkom na My toe en jy kan my dienaar wees. As jy sê wat jy moet sê en nie terugpraat teen My nie, dan mag jy my profeet wees. Daardie mense wat sit en lag, moet word soos jy, jy moenie soos hulle word nie.
20 Ek maak jou soos 'n sterk muur, 'n muur van brons. Hulle sal met jou baklei, maar hulle sal jou nie wen nie, want Ek is by jou en Ek sal jou red en jou vrymaak.
21 Ek sal jou vrymaak van die slegte mense, die mense wat jou wil seermaak.” Dit sê die Here.