Isaiah 38ABA

1Koning Hiskia het in daardie tyd baie siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou familie sê wat jy wil hê hulle moet doen, want jy sal sterf, jy sal nie gesond word nie.”

2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en hy het tot die Here gebid.

3Hy het gesê: “Ag, Here, dink asseblief daaraan dat ek gehoorsaam was aan U met my hele hart en dat ek altyd gedoen het wat U wil hê.” Hiskia het hard gehuil.

4Die Here het met Jesaja gepraat

5en Hy het gesê Jesaja moet vir Hiskia gaan sê: “Ek, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en Ek het jou trane gesien. Ek sal jou nog 15 jaar laat lewe.

6Ek sal jou en hierdie stad red van die koning van Assirië.

7En dít sal vir jou die teken wees dat Ek sal doen wat Ek gesê het:

8Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe van die sonwyser van Agas wys dat dit laat is, maar Ek sal die skaduwee tien trappe laat teruggaan.” Die skaduwee het tien trappe teruggegaan en dit het gewys dat die son weer hoog in die lug is.

9Koning Hiskia van Juda was siek en hy het weer gesond geword. Hy het toe 'n lied geskryf. Hy het gesê:

10Ek het gedink ek sal nog jonk wees wanneer ek sterf, ek sal na die doderyk moet gaan voordat ek oud geword het.

11Ek het gedink ek sal die Here nie weer sien nie, hier waar die mense woon wat lewe. Ek het gedink ek sal nooit weer 'n mens sien nie, hier in die wêreld waar die mense woon.

12Die Here het my afgebreek en Hy het my gebêre soos 'n skaapwagter sy tent afslaan en bêre. Hy het my lewe afgesny en opgerol soos 'n stukkie garing. Hy gooi my heeltemal weg, elke dag en nag.

13Soos wanneer 'n leeu 'n bok vang en sy bene stukkend kou, so breek Hy my. Die Here gooi my heeltemal weg, elke dag en nag.

14Ek sug en kla soos 'n voëltjie, soos 'n duif. Ek het opgekyk na die hemel totdat my oë klein geword het. Here, dit gaan sleg met my, help my asseblief!

15Wat moet ek sê? Dit is die Here wat dit gedoen het. Moet ek my hele lewe lank swaarkry?

16Here, U laat mense lewe en U sal my saam met hulle laat lewe. U sal my weer sterk laat word en U sal my laat aanhou lewe.

17Nou weet ek, dit was vir my goed dat dit so sleg gegaan het met my. U is lief vir my, U het my nie laat sterf nie, ja, U het al my sondes vergewe.

18U het dit gedoen, want mense wat dood is, kan U nie loof en prys nie. Hulle kan nie aanhou hoop dat U sal doen wat U belowe het nie.

19Net iemand wat lewe, kan U prys, soos ek vandag doen. 'n Pa kan vir sy kinders vertel dat U doen wat U belowe het.

20Here, U red my. Ons sal in die tempel op ons liere speel so lank ons lewe.

21Jesaja het toe gesê hulle moet 'n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit, sodat die koning gesond kan word.

22Hiskia het gevra hoe hy sal weet wanneer hy weer na die tempel kan gaan.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 38.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.