Isaiah 21
1 Die Here was kwaad en Hy het gepraat teen die land in die woestyn. Die vyande kom uit die woestyn soos stormwinde wat alles wegwaai in die Suid-land. Die vyande kom van daardie land, en almal is bang vir die mense van die land.
2 Ek het gesien daar gaan 'n vreeslike ding gebeur. Ek het gesien mense verraai vir Babel en hulle verwoes die land. Kom, mense van Elam en Medië, julle moet kom, en julle moet die stad aanval van al die kante. Die Here wil hê die swaarkry moet ophou.
3 Wanneer ek hoor en sien wat sal gebeur, dan kry ek pyne soos 'n vrou wat 'n baba kry, ek buig krom en ek skrik.
4 Ek weet nie wat om te doen nie, ek word baie bang. Ek was altyd bly wanneer dit aand word, maar nou is ek bang wanneer die donker kom.
5 Ek sien die bediendes dek die tafel en gooi die matte oop, en die amptenare van Babel eet en drink. En dan roep iemand en hy sê: “Staan op, amptenare, smeer julle skilde met olyf-olie.”
6 Ja, die Here het vir my gesê ek moet 'n wag op die muur laat staan, en hy moet kyk en vertel wat hy sien,
7 en wanneer hy oorlogkarre sien met perde of donkies of kamele, dan moet hy baie goed kyk.
8 Die wag het gesê: “Meneer, ek het die hele dag en die hele nag gekyk.
9 Ek sien daar kom 'n oorlogkar met perde, en daar is mense op die oorlogkar.” Toe die wag weer praat, het hy gesê: “Die mure van Babel het omgeval! Al die afgodsbeelde van die stad lê stukkend op die grond.”
10 My volk, die vyande het op julle getrap soos 'n mens die koring op die dorsvloer trap. Ek het vir julle gesê wat ek gehoor het by die Here wat oor alles regeer, die God van Israel.
11 Die Here is kwaad vir die Edomiete. Hy het oor hulle gepraat. Iemand praat met my uit Seïr. Hy vra vir die wag: “Wanneer is die nag verby, wanneer is die nag verby?”
12 Die wag het geantwoord: “Die môre kom, en die nag sal ook weer kom. As jy weer wil vra, dan kan jy weer kom en weer vra.”
13 Die Here is kwaad vir die Arabiere. Hy het gesê: “Julle, handelaars wat van die land Dedan kom, julle moet in die bos slaap in Arabië.
14 Julle wat in die land Teman woon, julle moet water bring vir die mense wat dors is en julle moet brood gee vir die mense wat vlug.
15 Hulle vlug vir die swaarde, vir die swaard en die pyl en boog van hulle vyande. Hulle vlug weg van 'n wrede oorlog.”
16 Ja, die Here het vir my gesê: “Oor 'n jaar sal die mense van die land Kedar nie meer ryk wees nie. In hierdie jaar sal hulle so swaar kry soos 'n dagloner.
17 Min soldate van Kedar sal nog lewe.” Ja, die Here, die God van Israel, het dit gesê.