Hosea 2
1 Die Here het gesê: “Julle ma is Israel. Julle moet vir julle ma sê sy het verkeerd gedoen, want sy is nie meer my vrou nie, en Ek is nie meer haar man nie. Sy moet ophou om ontrou te wees en om egbreuk te pleeg.
2 As sy nie ophou om dit te doen nie, dan sal Ek al haar klere uittrek, dan sal sy so kaal wees soos toe sy gebore is. Ek sal haar maak soos 'n woestyn waar nie water is nie. Sy sal sterf, want sy sal nie water hê om te drink nie.
3 Ek sal ook nie vir haar kinders goed wees nie, want hulle is ontrou kinders.
4 Hulle ma was ontrou, sy het slegte dinge gedoen, sy het gesê: ‘Ek is lief vir my gode, ek sal hulle dien. Hulle gee vir my brood en water, wol en vlas, olyf-olie en wyn.’
5 Daarom sal Ek nou doringtakke in haar pad gooi, en Ek, die Here, sal 'n klipmuur om haar bou. Ek sal haar pad toemaak, sy sal nie kan rondloop nie.
6 Sy sal probeer om by haar afgode te kom, maar sy sal dit nie regkry nie. Sy sal hulle soek, maar sy sal hulle nie kry nie. Dan sal sy sê: ‘Ek wil teruggaan na my God, want toe ek Hom gedien het, was dit beter as nou.’
7 “Ja, sy wou nie glo dat dit Ek is wat vir haar koring en wyn en olyf-olie gee nie, en ook baie silwer en goud. Sy het 'n beeld gemaak van die silwer en goud, 'n beeld van die afgod Baäl.
8 “Daarom sal Ek nou my koring en my wyn terugvat, daar sal nie koring wees om af te sny of druiwe om wyn te maak nie. Ek sal ook my wol en my vlas wegvat wat Ek vir haar gegee het om haar kaal lyf toe te maak.
9 Nou sal Ek haar klere uittrek, en haar afgode sal sien sy is kaal, maar hulle sal haar nie kan red nie.
10 Sy sal nie meer bly kan wees oor iets nie. Daar sal nie meer Hutte-feeste, Nuwemaan-feeste, Sabbatdae of ander feeste wees nie.
11 Ek sal haar wingerde en haar vyebome verwoes. Hulle sal soos die bosse word, die wilde diere sal hulle vreet. Sy het gesê: ‘Dit is presente wat my afgode vir my gegee het.’
12 “Ek sal haar straf, want sy het baie maal offers gebring vir die Baäls. Die mense van Israel is soos slegte vroue wat hulleself mooi maak met ringe en juwele en wat rondloop en ander mans soek. Maar vir My het hulle vergeet.” Dit sê die Here.
13 Die Here het gesê: “Maar Ek sal aanhou mooi praat met die mense van Israel totdat hulle weer my volk wil word. Ek sal hulle terugneem na die woestyn en Ek sal mooi dinge vir hulle sê.
14 Ek sal weer vir hulle wingerde gee, en hulle sal daar in die Akor-vallei wag om in die land in te gaan. Hulle sal daar weer praat soos in die tyd toe hulle 'n jong volk was, toe hulle uit Egipte gekom het.”
15 Die Here het ook gesê: “Daardie dag sal die mense van Israel sê: ‘U is ons God.’ Hulle sal nie meer sê: ‘U is ons Baäl’ nie.
16 Ek sal die Baäls se name wegvat uit die mense van Israel se mond, hulle sal nie meer oor die Baäls praat nie.
17 Daardie dag sal Ek hulle help om 'n ooreenkoms te maak, 'n ooreenkoms tussen hulle en die diere en die voëls en al die klein diertjies wat op die grond kruip. Daar sal nie meer oorlog wees in die land nie, Ek sal hulle veilig laat woon.”
18 Die Here sê vir die mense van Israel: “Ek sal julle my volk maak, julle sal altyd my volk wees. Ek sal dit doen soos 'n man 'n bruid neem, dan is die bruid altyd sy vrou. Ek sal reg doen aan julle. Ek sal lief wees vir julle en goed wees vir julle.
19 Ek sal julle my volk maak, julle sal My altyd wil dien. Julle sal altyd naby die Here wil wees.”
20 Die Here sê: “Daardie dag sal Ek praat. Ek sal praat met die lug, en die lug sal met die aarde praat,
21 en die aarde sal praat met die koring en die wyn en die olyf-olie, en hulle almal sal praat met die mense van Jisreël.
22 Ek sal die mense van Jisreël soos saad maak, Ek sal hulle op die aarde saai. Ek sal weer goed wees vir Nie-Weer-Goed-Wees-Nie. Ek sal vir Nie-My-Volk-Nie sê: ‘Julle is my volk,’ en hulle sal sê: ‘U is ons God.’ ”