Hebrews 8
1 Wat ek gesê het, beteken dit: Ons het 'n Hoëpriester, Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die troon van die Groot Koning in die hemel.
2 Hy doen 'n priester se werk in die tempel, dit is die ware tempel-tent. Die Here het die tempel gebou, 'n mens het dit nie gedoen nie.
3 Want God kies elke hoëpriester om presente en offers te bring. Daarom moes ook hierdie Hoëpriester, Jesus, iets hê om te offer.
4 Hierdie Hoëpriester in die hemel sou nie 'n priester kon wees as Hy op die aarde was nie, want hier op die aarde is daar priesters wat die presente offer soos die Wette van Moses sê.
5 Hulle doen die werk van priesters by 'n tempel, en die tempel lyk soos die tempel in die hemel. Toe Moses gereed was om die tempel-tent te bou, het God vir hom gesê wat hy moet doen. God het gesê: “ Kyk goed, jy moet alles maak presies soos Ek vir jou op die berg gewys het.”
6 Maar nou het God hierdie Hoëpriester, Jesus, gekies en aangestel om die werk van 'n priester te doen, en sy werk is baie belangriker as die werk van die priesters op die aarde. Dit is so omdat Jesus ook die Middelaar van 'n beter verbond is. God het die nuwe verbond vir sy volk gegee toe Hy beter dinge vir hulle belowe het.
7 Daar moes 'n tweede verbond kom, want die eerste verbond het nie alles gedoen wat dit moes doen nie.
8 Want God was ontevrede met sy volk, Hy het gesê: Daar sal 'n tyd kom, sê die Here, wanneer Ek 'n nuwe verbond sal maak met die mense van Israel en die mense van Juda.
9 Hierdie verbond sal nie wees soos die verbond wat Ek gemaak het met hulle voorvaders nie. Ek het daardie verbond gemaak op die dag toe Ek hulle hand geneem het om hulle uit die land Egipte te bring. Maar hulle het my verbond gebreek, daarom het Ek hulle weggegooi, sê die Here.
10 Want die verbond wat Ek later met die Israeliete sal maak, sal só wees, sê die Here: Ek sal my wette op hulle harte skryf en dit sal binne-in hulle wees. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.
11 Hulle sal nie meer vir mekaar leer of sê: “Jy moet die Here ken” nie. Hulle almal sal My ken, onbelangrike en belangrike mense,
12 want Ek sal die dinge vergewe wat hulle verkeerd gedoen het, Ek sal nie meer dink aan hulle sondes nie.
13 God het gepraat van 'n “nuwe” verbond, en so het Hy gesê dat die eerste verbond nou die “ou verbond” is. Wanneer iets oud word en oud is, dan sal dit gou verdwyn.