Habakkuk 3
1 Die gebed van die profeet Habakuk. Die mense moet dit sing soos hulle die lied Sigjonot sing.
2 Here, ek het gehoor die mense praat oor U, en ek eer U oor alles wat U gedoen het. Maar ek vra vir U: Doen dit nou weer, wys nou weer vir ons wat U gedoen het. U is nou kwaad, maar U moet asseblief weer goed wees vir ons.
3 God kom van die land Teman, die heilige God kom van Paran-berg. Sela Alles in die hemel eer Hom, Hy is die Koning. Al die mense op die aarde prys Hom.
4 Dit is lig rondom Hom, so lig soos die son, en uit sy hand kom die weerlig. Dan sien die mense hoe sterk Hy is.
5 Waar Hy kom, word mense siek, en wanneer Hy weggaan, dan sterf hulle.
6 Die aarde bewe waar Hy staan, die volke bewe waar Hy kyk. Die berge en die heuwels is baie oud, maar hulle breek en val. Die Here loop oor hulle soos Hy altyd gedoen het.
7 Ek sien hoe die Here die Midianiete straf, die mense wat in tente woon in die land Kusan. Ek sien hoe bewe die mense in hulle tente in die land Midian.
8 Here, dit lyk of U kwaad is vir die riviere en die see, want U kom op u perde en u oorlogkarre, die wolke. U kom om u vyande te oorwin.
9 U haal u boog uit en U skiet u pyle, die weerlig. Die weerlig slaan waar U gesê het dit moet slaan. Sela Dan val die reën en die riviere sny die aarde.
10 Die berge sien U en hulle bewe. Die strome water gaan verby. Die see raas, en sy branders is groot.
11 Die weerlig is u pyle en u spiese. Wanneer die weerlig slaan, dan staan die son en die maan stil.
12 U is kwaad, U kom na die aarde. U is kwaad, U kom die volke straf.
13 U kom om u volk te red, en ook die koning wat U gesalf het. U maak die leier van die slegte mense dood en U breek hulle huise heeltemal af. Sela
14 Die vyande se soldate hardloop na ons toe om ons weg te jaag na al die kante toe, maar U maak hulle leier dood met sy eie spies. Hulle het gedink u volk is swak, hulle het gedink hulle sal ons maklik vang en doodmaak waar niemand dit sien nie. Hulle het al klaar bly geword daaroor.
15 Wanneer U oor die see ry met u perde, dan raas die water. Die wolke is u perde.
16 Ek hoor dit en ek skrik. My lippe bewe, my hele liggaam word lam, my bene ruk. Ek bly stil en ek wag dat die dag moet kom. Ek wag vir die dag wanneer daardie volk ook swaar sal kry, die volk wat teen ons oorlog gemaak het.
17 Die vyeboom kry nie blare nie, en daar is nie druiwe aan die wingerdstok nie. Daar is niks olywe nie, en ons het nie koring in ons koringlande nie. Die vyande het ons skape en bokke uit ons kampe weggevat, en daar is nie beeste in die kraal nie.
18 Maar ek is bly. Ek juig oor alles wat die Here doen, Hy is die God wat my red.
19 Die Here maak my sterk. Hy help my om veilig te loop oor hoë berge, so maklik soos 'n ribbok daar loop. Julle moet op die lier speel en hierdie lied sing.