Exodus 15
1 Daarna het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi.
2 Ek kry my krag by die Here, Hy maak my sterk. Hy het my gered. Hy is my God, en ek sal Hom prys. Hy is die God van my voorvaders, en ek sal Hom eer.
3 Die Here kan oorlog maak, sy Naam is die Here.
4 Hy het die farao se oorlogkarre en sy soldate in die see gegooi, die farao se beste soldate het in die Riet-see verdrink.
5 Die water het hulle toegemaak, hulle het diep ondertoe afgesak en gesink soos klippe.
6 Here, u regter-hand is baie sterk, u regter-hand, Here, slaan die vyand dood.
7 Ja, U is die Groot God, U trap almal plat wat teen U oorlog wil maak. As U kwaad is, dan brand U hulle weg soos droë gras.
8 Die asem wat uit u neus kom, is soos 'n sterk wind. Dit het die water gekeer, en die water het hoog gestaan soos 'n muur, die diep water in die middel van die see het stil geword.
9 Die vyande het gesê: ‘Ons sal die Israeliete volg en jaag en ons sal hulle vang. Ons sal hulle goed vat en ons sal dit tussen ons verdeel. Ons sal alles kry wat ons wil hê. Ons sal ons swaarde uithaal en ons sal hulle doodmaak.’
10 Maar U het u wind laat waai, en die see het hulle toegemaak. Hulle het soos lood in die diep water gesink.
11 Here, wie is soos U? Nie een van die gode nie. Wie kan doen wat U kan doen? Wie is so heilig soos U? Niemand nie. Almal eer U en sing van die wonderlike dinge wat U doen.
12 U het u regter-hand uitgesteek, en die aarde het u vyande ingesluk.
13 U het gedoen wat U belowe het, U het u volk verlos en gelei. U het met u krag u volk gebring na u gewyde woonplek.
14 Die ander volke het daarvan gehoor en hulle het gebewe. Die mense van Filistyne-land het baie bang geword.
15 Die leiers van die Edomiete het geskrik, die konings van Moab was baie bang. Die mense van Kanaän het groot geskrik.
16 Hulle het geskrik en hulle was baie bang. Hulle het stil gaan staan soos 'n dooie klip toe hulle hoor hoe sterk U is. Here, in daardie tyd het ons, die volk wat aan u behoort, hier deur die water gegaan.
17 U het ons gebring en U het ons laat woon op die berg wat aan U behoort. Dit is die plek wat U reggemaak het vir u troon, u gewyde plek wat U self reggemaak het met u hande.
18 Die Here sal koning wees vir altyd en altyd!”
19 Ja, toe die farao se perde en oorlogkarre en die manne daarop in die see ingegaan het, het die Here die see se water laat terugkom oor hulle, maar die Israeliete het op die grond deur die see gegaan.
20 Moses se suster, Mirjam, was 'n profeet. Sy het 'n tamboeryn in haar hand geneem. Al die vroue het ook tamboeryne geneem en hulle het haar gevolg. Hulle het gedans.
21 Mirjam het vir hulle gesê: “Sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi.”
22 Moses en die Israeliete het weggegaan van die Riet-see. Hulle het in die Sur-woestyn gekom. Hulle het drie dae lank geloop, verder in die woestyn in, en hulle het nie water gekry nie.
23 Toe kom hulle by die plek Mara, maar hulle kon nie die water daar drink nie, want dit was bitter. Dit is hoekom hulle die plek Mara genoem het.
24 Die Israeliete kom toe na Moses toe en vra vir hom: “Wat moet ons drink?”
25 Moses het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir hom 'n stuk hout gewys. Moses het dit op die water gegooi, en die water het soet geword. Die Here wou kyk of die Israeliete gehoorsaam sal bly aan Hom. Hy het vir hulle wette gegee
26 en gesê: “Julle moet goed luister na wat Ek sê. Ek is julle God die Here. Julle moet doen wat Ek wil hê. Julle moet gehoorsaam wees aan my wette. Dan sal Ek julle nie siek maak soos Ek die Egiptenaars siek gemaak het nie, want Ek is die Here wat julle gesond maak.”
27 Die Israeliete het toe by Elim gekom. Daar was 12 fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar by die water hulle tente opgeslaan.