Bible

Connect

With Your Congregation Like Never Before

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Ecclesiastes 10

:
Afrikaans - ABA
1 Dooie vlieë laat lekkerruik-olie stink en sleg word. Wanneer iemand 'n bietjie dom is, dan beteken sy wysheid min, en mense sal hom minder respekteer.
2 Die verstand van 'n wyse mens laat dit goed gaan met hom, die verstand van 'n dwaas laat dit sleg gaan met hom.
3 Ook wanneer die dwaas op 'n pad loop, dan kan mense sien dat hy nie verstand het nie, hy wys vir almal dat hy 'n dwaas is.
4 Wanneer 'n persoon wat regeer, kwaad word vir jou, dan moet jy op jou plek bly en jou werk doen, want as jy kalm bly, dan sal jy nie dinge doen wat baie verkeerd is nie.
5 Ek het 'n verkeerde ding in hierdie wêreld gesien, dit is 'n fout wat 'n belangrike persoon maak:
6 Hy laat die dwase op baie belangrike plekke sit, maar ryk mense moet op die minder belangrike plekke sit.
7 Ek het gesien dwase ry op perde, en leiers moet soos slawe loop.
8 Wanneer iemand 'n gat grawe, dan sal hy miskien self daarin val, wanneer iemand 'n muur begin afbreek, dan sal 'n slang hom miskien pik.
9 Wanneer iemand klippe breek, dan sal die klippe hom miskien seermaak, wanneer iemand bome afkap, dan moet hy versigtig wees.
10 Wanneer 'n byl stomp is en jy maak dit nie skerp nie, dan moet jy harder kap, maar as jy wysheid het, dan kan jy slaag.
11 Wanneer 'n slang pik voordat iemand hom getoor het, dan help dit nie dat iemand die slang later toor nie.
12 Wanneer 'n wyse mens praat, dan is mense vriendelik met hom, maar wanneer 'n dwaas praat, dan laat hy dit sleg gaan met homself.
13 Hy is dwaas wanneer hy begin praat, en wanneer hy klaar gepraat het, dan is hy nog méér dom.
14 Maar 'n dwaas praat en praat. Niemand weet wat later sal gebeur nie. Wie kan vir hom wat later sal gebeur? Niemand.
15 'n Dwaas word baie moeg wanneer hy iets doen, en hy weet nie hoe hy weer in die stad kan kom nie.
16 Dit sal sleg gaan met 'n land as sy koning 'n slaaf is en as sy amptenare vroeg in die dag begin feesvier.
17 'n Land is gelukkig as sy koning uit 'n belangrike familie kom en as sy amptenare op die regte tyd eet en drink om sterk te word, nie om dronk te word nie.
18 As 'n persoon baie lui is, dan sal sy huis se dak inval, as hy niks wil doen nie, dan sal daar water lek deur sy huis se dak.
19 Mense maak kos om lekker te eet, en wyn maak hulle vrolik, maar dit is geld wat hulle help om alles te kry wat hulle wil hê.
20 Jy moenie die koning vervloek nie, jy moet nooit dink om dit te doen nie. Jy moenie 'n ryk mens vervloek nie, ook nie as jy alleen in jou slaapkamer is nie. Hoekom? Want 'n voëltjie kan gaan vertel wat jy gesê het, enige iets wat vlieg, kan dit vir hom gaan sê.