2 Samuel 1ABA

1Nadat Saul gesterf het, het Dawid die Amalekiete oorwin en toe het hy teruggekom. Hy was twee dae in die stad Siklag,

2en op die derde dag het daar iemand gekom uit die kamp van die manne van Saul. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Toe hy by Dawid kom, het hy laag gebuig en hy het op die grond gaan lê.

3Dawid het vir hom gevra: “Van waar kom jy?” Die man het geantwoord: “Ek het weggevlug uit die kamp van die Israeliete.”

4Toe vra Dawid vir hom: “Wat het gebeur, vertel asseblief vir my.” Die man het gesê: “Die manne het gevlug uit die oorlog, en baie manne het gesterf. Saul en sy seun Jonatan is ook dood.”

5Toe vra Dawid vir die jongman wat dit vir hom kom sê het: “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?”

6Die jongman het gesê: “Ek het op Gilboa-berg gekom, en daar het ek vir Saul gesien, hy het in sy spies geval. Die Filistyne se oorlogkarre en hulle manne op perde was rondom hom.

7Saul het omgekyk en hy het vir my geroep, en toe ek antwoord,

8vra hy vir my wie ek is. Ek het vir hom gesê ek is 'n Amalekiet.

9Toe sê hy vir my: ‘Jy moet asseblief hier na my toe kom en jy moet my doodmaak, want ek lewe nog maar ek is besig om te sterf en ek is baie bang.’

10“Ek het na hom toe gegaan en ek het hom doodgemaak, want ek het geweet hy sal nie lank lewe nie omdat hy in sy spies geval het. Ek het die kroon op sy kop en die armband aan sy arm geneem en ek het dit hiernatoe gebring vir Meneer.”

11Dawid en al die manne by hom het hulle klere gegryp en hulle het dit geskeur.

12Hulle het tot die aand gerou en gehuil en gevas oor Saul en sy seun Jonatan, oor die manne van die Here en oor die volk Israel, want hulle het in die oorlog gesterf.

13Dawid het vir die jongman wat dit vir hom kom vertel het, gevra: “Van waar kom jy?” Hy het gesê: “Ek is die seun van 'n vreemdeling, 'n Amalekiet.”

14Dawid sê toe: “Hoekom was jy nie bang om jou hand uit te steek om die gesalfde van die Here dood te maak nie?”

15Dawid roep toe een van sy eie jongmanne en sê: “Kom, maak hom dood.” Die jongman het dit gedoen, en die Amalekiet het gesterf.

16Dawid het vir hom gesê: “Dit is jou eie skuld dat jy moet sterf, want jy het self gesê jy het die gesalfde van die Here doodgemaak.”

17Dawid het hierdie klaaglied gesing oor Saul en oor sy seun Jonatan.

18Hy het gesê die mense van Juda moet die lied leer. Hy het dit “Die Booglied” genoem en hy het gesê hulle moet dit skryf in die Boek van Jasar.

19“Land Israel, die vinnige, die mooi leier lê dood op jou berge, die manne wat oorlog moes maak, het gesterf.

20Julle moet dit nie vertel in die stad Gat nie, julle moenie daarvan praat op die strate van die stad Askelon nie, want dan sal die vroue van die Filistyne bly wees, die heidenvroue sal juig.

21Berge van Gilboa, daar moenie meer dou of reën op julle val nie, daar moenie koring of vrugte wees om te offer nie. Want daar op julle het die skilde vuil geword van die grond, die skilde van die mense wat oorlog moes maak, en daar het die skild van Saul bly lê, niemand het olyf-olie daarop gesmeer nie.

22Die pyl en boog van Jonatan het nie opgehou om raak te skiet nie, die swaard van Saul het aangehou om Filistyne te laat sterf.

23Ons was lief vir Saul en Jonatan, en hulle was vir ons mooi. Hulle is bymekaar nadat hulle gesterf het soos hulle bymekaar was toe hulle gelewe het. Hulle was vinniger as arende en sterker as leeus.

24Vroue van Israel, julle moet huil oor Saul, dit is hy wat vir julle mooi, bloedrooi klere laat aantrek het en wat vir julle goue juwele laat dra het op julle klere.

25Die manne wat oorlog moes maak, het gesterf. Jonatan lê dood op Gilboa-berg.

26My broer Jonatan, ek huil en treur oor jou. Jy was vir my baie kosbaar. Dit was wonderlik dat jy lief was vir my, wonderliker as dat vroue lief was vir my.

27Die manne wat oorlog moes maak, het gesterf, die manne wat die oorlog moes wen, is dood.”

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for 2 Samuel 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.