2 Samuel 22
1 Dawid het hierdie lied vir die Here gesing in die tyd toe die Here hom gered het van sy vyande en van Saul.
2 Hy het gesing: “Here, U is my Rots, my veilige plek in die berge, U maak my vry.
3 God wat my Rots is, ek voel veilig by U, U is vir my soos 'n skild, U is sterk en U red my, U is vir my 'n veilige plek, ek kan na U toe vlug, U is my Redder, U red my van mense wat my aanval,
4 Here, ek wil U prys, want U het my gered van my vyande.
5 Die branders van die dood wou my vashou, waterstrome het oor my gespoel en wou my doodmaak.
6 Toue van die doderyk het my vasgebind, vangstrikke van die dood het my gevang en vasgehou.
7 “Wanneer dit sleg gaan, dan skree ek: Here! Ek roep na my God, Hy hoor my stem in sy paleis, Hy hoor wanneer ek roep en vra dat Hy my moet help.
8 Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die hemel het gebewe en geskud, want die Here was kwaad.
9 Rook het uit sy neus gekom, vuur het uit sy mond gebrand, kole vuur het uit Hom gekom.
10 Hy het die hemel oopgeskuif en Hy het afgekom, daar was donker wolke onder sy voete,
11 Hy het op 'n gerub geklim en Hy het gevlieg, Hy het verskyn op die vlerke van die wind.
12 Dit was donker rondom Hom, donker water en dik wolke het Hom toegemaak.
13 Dit het geblink voor Hom, kole vuur het geskyn.
14 Die Here het die donderweer laat raas in die lug, die Hoogste God het hard gepraat.
15 Die weerligstrale was sy pyle, Hy het sy vyande na alle kante toe gejaag en Hy het hulle laat vlug.
16 “Wanneer die Here met sy vyande raas, wanneer die asem uit sy neus 'n stormwind word, dan word die see leeg, en die fondamente van die wêreld lê oop.
17 “Die Here steek sy hand uit die hemel en Hy gryp my, Hy tel my op uit die baie water.
18 Hy red my van my sterk vyande, van die mense wat my haat, want hulle is te sterk vir my.
19 Hulle val my aan wanneer ek swaarkry, maar die Here hou my regop.
20 “Hy bring my na 'n plek waar ek vry is, Hy red my, want Hy is lief vir my.
21 Ek is onskuldig, en die Here gee vir my wat ek moet kry, ek het niks verkeerd gedoen nie, en die Here beloon my.
22 Ja, ek het gedoen wat die Here wil hê. Wanneer my God my oordeel, dan is ek nie skuldig nie.
23 Ek het onthou wat Hy gesê het ek moet doen, ek het gedoen wat Hy beveel het.
24 Ek het alles gedoen wat Hy gesê het, ek het aangehou om reg te doen.
25 Ek is onskuldig. Die Here het gesien dat ek niks verkeerd doen nie, en Hy het my beloon.
26 U doen wat U belowe het vir die mense wat doen wat húlle belowe. U is altyd goed vir die mense wat net goed doen.
27 Wanneer mense rein is en by U mag wees, dan is U by hulle. Wanneer mense vals is, dan is U te slim vir hulle.
28 U red mense wat hulleself nie kan beskerm nie, en U verneder mense wat dink hulle is belangrik.
29 Ja, Here, U gee vir my lig, U maak lig wanneer dit donker is om my.
30 Ja, wanneer U by my is, dan kan ek 'n klomp mense aanval, wanneer U, my God, by my is, dan kan ek oor 'n hoë muur spring.
31 “Wat God doen, is alles reg, wat die Here sê, is altyd waar. Hy is soos 'n skild vir almal wat na Hom toe vlug.
32 Die Here is die enigste God, net ons God is 'n Rots.
33 Hy is die God wat sterk is, ek is veilig by Hom, Hy maak my lewe veilig.
34 Hy laat my so vas staan soos 'n ribbok, Hy laat my veilig staan op hoë plekke.
35 Hy leer vir my om oorlog te maak, Hy maak my arms sterk sodat ek die snaar van 'n brons-boog styf kan trek.
36 Die skild wat U vir my gee, red my lewe, U help my, en dit gaan goed met my.
37 U laat my vinnig hardloop, my voete gly nie.
38 Ek volg en jaag my vyande, ek kom tot by hulle, ek draai nie om voordat hulle almal dood is nie.
39 Ek maak hulle dood, ek slaan hulle, hulle staan nie weer op nie, hulle lê voor my voete.
40 U maak my sterk om oorlog te maak, U laat my vyande op hulle knieë staan voor my.
41 U laat hulle vlug, weg van my, en ek kan die mense wat my haat, vir altyd stilmaak.
42 Hulle skree en vra dat iemand hulle moet help, maar niemand red hulle nie, hulle roep na die Here, maar Hy antwoord hulle nie.
43 Ek slaan hulle fyn soos stof, ek trap op hulle soos ek trap op die modder in die paaie, ek trap hulle plat.
44 “U red my van my eie mense wat opstandig is teen my. U maak my die hoof van volke en U beskerm my. Mense wat ek nie geken het nie, doen nou wat ek sê.
45 “Mense uit ander lande kruip voor my. Wanneer hulle hoor van my, dan luister hulle dadelik.
46 Hulle skrik en hulle kom uit hulle stede, die stede wat sterk mure het.
47 “Die Here lewe, ek wil my Rots prys. Ek sê die God wat my Rots is en wat my red, is belangriker as alles.
48 Hy is die God wat my help om mense te straf oor die dinge wat hulle aan my gedoen het, Hy laat my regeer oor volke.
49 Hy red my van my vyande, Hy laat my staan hoog bo die mense wat teen my is, Hy red my wanneer wrede mense my wil seermaak.
50 “Daarom, Here, ek sal U prys sodat die volke dit kan hoor, ek sal sing oor u Naam.
51 “Die Here laat die koning wat aan Hom behoort, altyd wen teen sy vyande, Hy doen wat Hy vir sy gesalfde belowe het, vir Dawid en sy nageslag, vir altyd.”