2 Chronicles 12
1 Toe Rehabeam seker was dat hy koning is en toe hy sterk geword het, het hy en al die Israeliete saam met hom opgehou om te doen wat die Here wil hê.
2 En omdat hulle ontrou geword het aan die Here, het koning Sisak van Egipte vir Jerusalem kom aanval. Dit was in die vyfde jaar nadat Rehabeam koning geword het.
3 Sisak het 1 200 oorlogkarre en 60 000 manne op perde by hom gehad, en sy soldate was so baie dat 'n mens hulle nie kon tel nie. Daar was soldate uit Libië, Suk en Kus.
4 Sisak het die sterk stede in Juda oorwin en hy het na Jerusalem gekom.
5 Die amptenare van Juda het weggevlug van Sisak en hulle het in Jerusalem bymekaargekom by Rehabeam. Die profeet Semaja het na hulle toe gekom en hy het vir hulle gesê: “Die Here sê: Julle het My gelos, daarom het Ek julle gelos, sodat Sisak met julle kan doen wat hy wil.”
6 Die amptenare van Israel en die koning het hulleself verneder en hulle het gesê: “Die Here het reg gedoen.”
7 En toe die Here sien dat hulle hulleself verneder het, het Hy vir Semaja gesê: “Hulle het hulleself verneder, daarom sal Ek hulle nie almal laat sterf nie. Ek sal hulle nie so swaar straf soos Ek hulle wou straf nie, Ek sal nie vir Sisak gebruik om die mense van Jerusalem te laat voel hoe kwaad Ek regtig is nie.
8 Maar hulle sal vir Sisak moet dien, en hulle sal uitvind hoe dit is om My te dien en hoe dit is om konings van ander lande te dien.”
9 Koning Sisak van Egipte het na Jerusalem gekom en hy het al die kosbare goed gevat wat in die tempel en in die paleis was. Hy het alles gevat, ook die goue skilde wat Salomo laat maak het.
10 Koning Rehabeam het toe ander skilde laat maak, skilde van brons, en hy het die skilde vir die hoofde van die wagte gegee wat waggestaan het voor die paleis.
11 Elke maal wanneer die koning na die tempel gegaan het, dan het die wagte gekom en hulle het die skilde gedra. Daarna het hulle die skilde teruggebring na die wagte se kamer.
12 Omdat Rehabeam homself verneder het, het die Here nie kwaad gebly vir hom nie. Die Here het die mense van Juda nie almal laat sterf nie. Dit het toe goed gegaan in Juda.
13 Koning Rehabeam was lank koning in Jerusalem. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 17 jaar lank koning in Jerusalem. Jerusalem was die stad wat die Here gekies het van al die stede van die stamme van Israel. Die Here het Jerusalem gekies om aan Hom te behoort. Rehabeam se ma was die Ammonitiese vrou Naäma.
14 Rehabeam het slegte dinge gedoen, want hy wou nie graag die Here dien nie.
15 Al die dinge wat Rehabeam voorheen en later gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die profeet Semaja en van die siener Iddo. Hulle het dit in die naamlys geskryf. Hulle het ook geskryf oor die oorloë wat daar altyd tussen Rehabeam en Jerobeam was.
16 Rehabeam het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Abia het koning geword ná hom.