1 Corinthians 13ABA

1Miskien sal ek die tale van mense en van engele kan praat, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan is ek soos 'n klok of soos 'n simbaal wat net raas.

2Miskien sal ek God se boodskap kan bring, en al die geheime kan ken, en alles kan weet. Miskien sal ek so sterk kan glo dat ek berge kan wegskuif, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan beteken ek niks.

3Miskien sal ek al my goed kan weggee, en miskien sal ek myself kan gee sodat mense my slaan en seermaak, en sal ek daaroor spog, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan help dit my niks.

4Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie,

5hy doen nie lelike dinge nie, hy is nie selfsugtig nie, hy word nie gou kwaad nie, hy onthou nie vir altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie,

6hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is baie bly wanneer mense die waarheid praat.

7Hy word nooit moedeloos nie, hy hou aan om te glo en te hoop, hy bly geduldig.

8Hy hou nie op om lief te wees vir God en vir ander mense nie. Daar is genadegawes wat sal ophou: Om God se boodskap te bring, sal ophou. Om in tale te praat, sal ophou. Om baie dinge te weet, sal stop.

9Want ons weet net 'n bietjie, en ons bring net 'n bietjie van God se boodskap.

10Maar eendag, wanneer alles is soos God dit wil hê, dan sal die dinge wat ons nou ken en het, nie meer nodig wees nie.

11Toe ek 'n kind was, het ek dinge gesê soos 'n kind dit sê, ek het gedink soos 'n kind, en ek het oor die lewe gepraat soos 'n kind. Maar toe ek 'n grootmens geword het, het ek die dinge van 'n kind gelos.

12In hierdie lewe sien ons alles baie dof, ons sien dinge soos in 'n dowwe spieël. Maar eendag sal ons alles helder sien, soos wanneer 'n mens voor iemand staan en jy kan sy gesig goed sien. Nou weet ek nog nie alles nie. Maar eendag sal ek alles weet, soos God nou alles van my weet.

13Daar is net drie dinge wat regtig belangrik is, en dit is: om aan te hou glo, om aan te hou hoop, en om lief te wees vir God en vir ander mense. Maar die belangrikste is om lief te wees vir God en vir ander mense.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Choose Translation

Switch translation for 1 Corinthians 13.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.